Na aanleiding van Psalm 23 (lees 2020-vertaling)

Here, Goeie Herdersondag in die Christelike Jaar, laat ons weer peins oor die bidder se diep getuienis oor sy/haar ervaring van u goedheid en troue liefde elke dag. Die psalmis se vertrouensgebed wek in my ’n verlange om lewenslank u sorgende teenwoordigheid te ervaar.

Die emosie van sorg en omgee wat die metafore vir U as my herder en gasheer loswoel, laat my verlangend na die toekoms uitsien met die begeerte na leiers wat werklik daarop ingestel is om hul mense met liefde en deernis te lei en te beskerm. Leiers wat vertrou word.

Here, ek hoor daagliks rondom my mense begerig hul behoefte aan genesende en lewegewende rus deel, in hul gesprekke met mekaar. Ek beleef in myself hoe die tydsgees my afrem en insuig in ’n luide koor stemme wat roep om rus en vrede. Tog, dis net ’n roep na U!

Op ons reis van vyftig dae tussen Paasfees en Pinskter Sondag, Here, is ons voortdurend bewus van die aard van u troue liefde en u ekstreme plan ter wille van u Naam. U wys in Jesus Christus u deernisvolle sorg In die openbaring van sy opstanding uit die dood.

Here, op reis deur die Christelike Jaar en die gewoel van ’n onvriendelike wêreld rondom ons, spreek die psalmis se beeldryke getuienis tot my. Ek deel die behoefte aan sorg en beskerming. Ek begeer sekerheid van innerlike stabiliteit en emosionele balans. Ek verlang na U!

Te midde van omstandighede en gebeure wat ons lewe ontwrig, Here, bely ek my oortuiging dat U by my is. U gee my die rus waarna my onstuimige gemoed verlang. U stel my gerus wanneer die lewe my van balans af pluk en my tot in my siel ontwrig. U troue liefde wankel nie.

Dankie, Here, dat U self my rusplek is. Dankie dat ek by U nuwe lewenskrag put om elke dag op te staan en aan te gaan te midde van aanslae wat my vertroue op U wil laat wankel. U is by my. U wys nie net die regte pad aan nie, maar stap saam met ons daarop. U gaan ons voor.

Ek ly nie gebrek nie, want U is by my, U is my rusplek.

Amen

Geskryf deur Dr Eddie Orsmond
RCL JAAR A – VIERDE WEEK VAN