LUKAS 14:25-33 (2020-vertaling)
Op Jesus se reis na Jerusalem in Lukas se vertelling (9:51-19:27), het groot skares mense saam met Hom gereis. Mense wat Jesus volg in die nuwe bedeling wat Hy aangekondig het (volgelinge/dissipels), is immers ‘mense van die Weg’. Die groot skares wat so saam met Jesus gereis het, kon om verskillende redes daartoe aangespoor wees. Sommige in verwonderdering oor wat hulle van Jesus gehoor het, probeer teenwoordig wees wanneer Hy weer ’n wonderwerk doen. Ander het dalk gehoop op nog ’n stukkie brood en vis omdat hulle self nie kos gehad het om te eet nie. Daar kon ook mense in die skares wees wat bloot uit nuuskierigheid saam beweeg het. Wat hulle motivering ookal was, in ons Skrifdeel wend Jesus Hom tot dié skares mense en praat oor eise en voorwaardes vir die reis saam met Hom.
Sommige verklaarders meen Jesus praat hier (vers 26) met mense wat na Hom toe kom soos aan die begin van die reisverhaal (9:57), waar iemand Jesus nader en vrywillig aanbied om Hom te volg waar Hy ook al gaan. Dié verklaarders onderskei tussen mense wat uit die skares by Jesus aanmeld en ander vir wie Jesus spesifiek uit die skares roep om Hom te volg. Jesus reageer dan op die entoesiasme van mense onder die meereisende skare wat onbewus is dat Hy op pad is om gekruisig te word en dat sy dissipels nie uitgesluit is van dié swaar las nie. Jesus wil dit duidelik stel aan die reisgenote dat die doel van sy bediening nie is om ongeërgde of bloot nuuskierige dissipels te terk nie. Nee, Jesus konfronteer die skare met die streng (bindende) eise van ware dissipelskap.
In Jesus se appél op die skare wat na Hom toe kom, maak Hy twee radikale stellings en vertel twee gelykenisse om die aard van dissipelskap uit te spel. Jesus pas die kern van dissipelskap toe op die pad waarop Hy is en waartoe Hy sy dissipels roep. Die taal van die radikale stellings is hiperbolies. Jesus beklemtoon dat sy program te alle tye voorrang moet geniet bo mense se eie belange. Hoor hoe radikaal is en diep sny Jesus se uitspraak in vers 26, naamlik dat as iemand Jesus nie liewer het as selfs die heel naaste (intiemste) familie nie, kan sodanige persoon nie sy dissipel wees nie. Die Griekse woord wat dié voorkeur vir Jesus uitdruk, word ook vertaal as ‘haat’ of ‘afstand doen’. Dissipelskap eis volle oorgawe. Die prys van dissipelskap word verder beklemtoon met die uitspraak oor die dra van ’n eie kruis (vers 27) en wys vooruit na wat op Jesus in Jerusalem wag.
En dan vertel Jesus twee gelykenisse in taal wat heenwys op die eindtyd (eskatologie). Die gelykenis oor die bou van ’n toring (vers 28-30) maak die waarskuwende punt dat iemand wat ’n mens ‘van die Weg’ wil wees, nie met die moeilike (uitdagende/alles-opeisende) werk van dissipelskap moet begin nie, indien dit nie jou intensie is om dit tot die einde toe deur te voer nie. Maar, die vraag of jy die roeping tot dissipelskap kan nakom hang egter volledig af van oorgawe en toewyding aan Jesus wat die Weg is en die weg vir ons aandui. Wanneer Jesus ons roep as dissipels het ons inderdaad ’n keuse, maar die besluit behels reeds ’n visie op die eindpunt.
Die tweede gelykenis oor die koning wat optrek vir oorlogvoering en sy berekeninge vir die veldslag in die lig van vrede as ’n beter opsie (vers 31-32), beklemtoon waarskynlik die beoordeling van hoe ek hier en nou moet lewe in die lig van my toekomsverwagting saam met Jesus. Dissipels van Jesus moet in dié wêreld reeds sodanig leef dat die visie van waarheen ons op pad is, in daaglikse optrede gestalte kry. Ons moet nou reeds leef volgens God se standaarde en die gevolge daarvan dra in ’n wêreld wat daardie standaarde nié erken en honoreer nie.
Jesus beklemtoon sy punt dat ware dissipelskap geen ruimte laat vir halfhartigheid nie. Doen afstand van eie belang en besittings (vers 33). Kies die w(W)eg – berekend.
TOERUSTING VIR DISSIPELSKAP IN DIE WêRELD WAARHEEN GOD ONS STUUR
Dertiende Week van Koninkrykstyd – Jaar C: Vrydag 12 September 2025
Geskryf deur Dr Eddie Orsmond