‘Toe die tyd nader kom dat Jesus in die hemel opgeneem sou word, het Hy vasbeslote die reis na Jerusalem begin’ Lukas 9:51

Jesus het geweet wat alles in Jerusalem met Hom sou gebeur. Daar was al vorige pogings om Hom gevange te neem, maar die tyd was nog nie reg nie. In sy tuisdorp wou hulle Hom van ’n krans afgooi, maar Hy het sommerso tussendeur hulle weggestap, want dít was nie hoe Hy vir die mensdom sou sterf nie. Hierdie keer was egter anders. Die oomblik het aangebreek. Hy het reeds sy dissipels daarop voorberei:

‘“Kyk, ons gaan nou Jerusalem toe. Daar sal die Seun van die mens aan die priesterhoofde en skrifgeleerdes oorgelewer word, en hulle sal Hom tot die dood veroordeel.’ Matteus 20:18

Tog het Hy nie daarvoor teruggedeins nie. Hy was vasbeslote om God se plan deur te voer. In Johannes 10:18, sê Hy dat Hy kies om sy lewe af te lê. En in Matteus 26:53 lees ons dat meer as twaalf legioene engele gereed was om in te gryp sou Hy daarvoor vra. Hy kon dit netsowel gedoen het. Hy kon netsowel besluit het om nie Jerusalem toe te gaan nie, maar eerder iewers te gaan wegkruip. Hy kon netsowel besluit het om nie sy lewe neer te lê nie. Maar Hy het.

Hy het die pad Jerusalem toe aangepak met jou naam op sy lippe. Sy liefde vir jou is wat Hom elke tree laat gee het. Hy het geweet van die angs wat Hom in Getsemane sou oorval. Hy het geweet dat hulle Hom sou slaan, ’n doringkroon op sy kop sou sit, en in sy gesig sou spoeg. Hy het reeds gehoor hoe die volk skree: “Kruisig Hom!”

Hy het ook geweet hoe swaar daardie houtkruis gaan wees wat hy met ‘n stukkende lyf tot op Golgota sou moes dra – dat daarmee saam, die hele wêreld se sondes op sy skouers sou rus. (Jes. 53:6; 1 Pet. 2:24)

Die spykers deur sy hande en voete. Die gespot. Sy Vader wat Hom verlaat. Die duisternis. ’n Koue graf.

Hy het dit alles tegemoet gegaan sodat jy losgekoop kan word.

‘Christus het ons losgekoop van die vloek wat die wet meebring, deur in ons plek ‘n vervloekte te word. Daar staan naamlik geskrywe: “Vervloek is elkeen wat aan ‘n hout opgehang is.”’ Galasiërs 3:13

Wat gaan jy doen met hierdie keuse wat Hy vir jou gemaak het?

Dit is nooit te laat, of te vroeg, om Hom aan te neem as jou Verlosser nie. Die grootste oomblik van jou lewe is net een gebed weg.

 

Geskryf deur Madeleine Venter