Ek dink onlangs aan ‘n tyd lank gelede, en die skadufigure teen die muur. Ons het op die koue platteland gewoon waar Milo in warm melk elke aand ‘n tradisie was. Ek op my pa se skoot, my sussie en ma op die bank (boetie was toe nog ‘n vonkel in die oog), en die kaggel se flamme wat dans op die maat van die oer oue stemme wat hang in die Karoo se winter lug. My pa het altyd die groot ligte afgesit en ek onthou hoe die afwagting dan in my opgebou het.
Daar was nie Netflix, Supersport of Instagram nie. Daar is nog gesels, stories is nog opgemaak, en grappies is nog laf voorgedra. En wanneer jy knus onder jou vere kombers inkruip is Bybelstories vertel tot klaasvakie gekom het. Dan het jy natuurlik self vir Goliat met ‘n klip teen die voorkop gegooi, al het jy nog nooit eers ‘n slingervel gehad nie. Die eenvoud van daai grootwordjare het so diep in my wese geklim dat min dinge vandag daarmee kan vergelyk.
Wanneer pa daai groot ligte afgesit het, het hy met sy hande figure teen die muur gemaak in die lig van die lamp in die hoek. Die skaduwee van sy hande het vorms gemaak soos ‘n papegaai, ‘n duif, ‘n draak en ‘n spinnekop. Ons het ook probeer, maar dit was net monsters. My sussie se vlinder het so baie soos die bure se kat sonder ‘n stert gelyk dat Wolfie, ons woef,’n wilde blaf gegee het en sommer voor die stoof in die kombuis gaan lê het. Dit het ons vir ure besig gehou. Dit het jou gedagtes aan alles wat moontlik is laat dink en dit het so bietie aan ons vrees vir die donker geskaaf.
Wat my in verwonder het, van kleintyd af, is dat lig die vermoë het om dadelik lewe in die donker te bring. Soms het ons net in die donker gesit en na die kaggel gestaar, terwyl elkeen ‘n beurt gekry het om te vertel wat hy raaksien in die skaduwee wat die vlamme maak teen die muur. Daai vlamme, die lig van die vuur, laat die donker na sy pype dans. Die lig is net altyd te sterk en te helder vir die donker om teen te staan.
“God is lig, en daar is geen duisternis in Hom nie.” 1 Johannes 1:5
24 Desember 2023 lees ek hierdie vers weer raak en onomwonde speel die afgelope jaar voor my af soos skadufigure teen muur. Die prent is donker, vrek donker, en vir ‘n tyd lank sien ek niks behalwe donker nie. Elke jaar, elke fase van ons lewens, het altyd ‘n donker deel wat eerste wil kop uitsteek.
Dan sit ons Kersoggend in ‘n prop vol kerk, dit is warm, kinders sit op die grond, mense bly instroom en so waar as wraggies, is daar ‘n tannie wat opstaan en die skuifdeur toe stoot! Nee man, dink ek sag, maar my been wat onwillekeurig op en af skud, gee my frustrasie weg. Ek moes egter geweet het, dat daardie frustrasie nie lank geduld gaan word nie. My vrou is soos die ‘poster child’ van Kersfees. Dit is rolprente met gelukkige eindes, baie liggies wat brand, ‘n groot boom en Boney M. Maar meer nog as dit, is dit vir haar ‘n heilige tyd en skep sy warmte en gee sy liefde. So daar kry ek toe ‘n kalm, liefdevolle hand op my knie, geen woorde nie en toe ek regs loer, die wonderlikste glimlag en ‘n knipoog.
Met my rustiger gemoed, en tydens ‘n voorsang lys liedjies wat die ou bekendes insluit soos Herders op die ope velde, tref dit my weer. ‘n Helder ster in Betlehem, kondig hard en duidelik die belangrikste nuus aan die wêreld aan. Daar is ‘n Redder gebore in ‘n stal en Hy is die LIG vir die wêreld. Selfs die dominee sluit aan by my gedagtegang en gesels oor Lukas se perspektief van Jesus se geboorte en die heilige, stille nag.
Hy is die Lig wat die donker verdryf, ons weet dit maar moet soms net weer ‘n slag daaraan herinner word. Ek en jy, ons is die lampe waardeur die lig van Jesus skyn. As die Lig binne ons is, verdryf ons die donker oral waar ons met Sy liefde leef. 2024 staan op ons drempel. Ons as kinders van die Here is in ‘n wonderlike posisie dat ons Lig vir ons voete het. Die lig van die Woord, die Seun van die mens, wie ons pad verlig en die donker verdryf.
Het julle geweet dat lig nie skaduwee kan hê nie – dit verdryf die donker? Ek het dit gaan toets met ‘n vuurhoutjie. Steek dit aan en laat dit brand iewers waar daar ook ‘n lig daarop val. Die vuurhoutjie se houtjie maak ‘n skaduwee, maar nie die vlammetjie nie. Lig kan nie ‘n skadu gooi nie, want lig verdryf die donker! Wanneer jy ‘n voorwerp bysit, soos hande, sal daar ‘n skaduwee deur die voorwerp veroorsaak word. Maar die lig self – geen skadu nie. Ek is seker wetenskaplikes sal ‘n geselsie hieroor wil aanknoop – maar die simboliek bly dieselfde.
Waar God is, is daar geen duisternis nie, want Hy is die Lig wat donker verdryf. Ons elkeen het die keuse waar ons wil staan in 2024. Wil ons in die leuen van die vyand staan soos ‘n verfrommelde skadufiguur teen die muur, of wil ons in die lig staan, sodat Sy Lig deur ons kan skyn vir die donkerte van die wêreld?
Kom ons streef om die lig te wees, wie die skadu in ons medemens se lewe verdryf. Die Lig wat binne ons skyn, is dieselfde Lig wat aarde toe gekom het en wat deur ‘n ster in Betlehem aangekondig is.
God het gesê: “Laat daar Lig wees” en daar was Lig!
Nie al my pa se skadufigure teen die Karoo muur was mooi nie. Van die figure het my bang gemaak. Van die figure het snags in my slaap gespook, soms kon ek my kop onder die kombers druk en verder slaap. Maar soms was die vrees net te groot en moes mamma opstaan en kom kyk wat aan die gang is. Wanneer sy egter die lig aangeskakel het, was die ‘monsters’ dood eenvoudig nie meer daar nie.
Ons Lig is vir altyd aangeskakel met Kersfees. Geen donkerte meer nie.
Ek besef ons moet ook die Lig wees vir ander, want Sy Lig is in elkeen van ons en Hy het gesê:
Laat daar Lig wees en Jesus het geantwoord aan die kruis, en daar was Lig.
Geskryf deur Wynand Olivier