Na aanleiding van Psalm 146:5-10 (lees 2020-vertaling)

Here, die psalmis herinner my aan ’n verskynsel wat ek oral onder u gelowige kinders waarneem; gunsteling uitdrukkings van hulle/ons geloof in aanbidding tot U. Dit is asof elke gelowige persoonlik-intieme taaluitinge munt om hul geloof in U tot uitdrukking te bring.

Die woorde van vers ses in dié Psalm, is as’t ware vir my ’n formule in my persoonlike verhouding met U. Wanneer ek in oomblikke van lofprysende aanbidding tot U nader – en dit gebeur nie elke dag nie – borrel dié formule uit my binneste as uitdrukking van my liefde vir U.

Here, dit is vreugde woorde oor die herkenning van u wonderbare handelinge in my lewe. By sulke geleenthede vloei spontane geloofstaal as ek U aanbid. U het hemel en aarde gemaak. U bly trou tot in ewigheid. U laat nooit die werke
van u hande vaar nie. Dít is mý geykte woorde oor U.

Nou bid ek dié Psalm in die derde week van Advent. Saam met geloofsgenote berei ons voor om Christus se geboorte op aarde te vier, Here. Ons herinneringe dat Christus mens geword het en ons daarom uitsien dat Hy weer kom, dien
as geloofspraktyk om u ewige trou in ons harte te bevestig.

Here, heerlik is die psalmis se geloofsoortuigings uitgedruk in sý geykte geloofsformule soos hy dit ten slotte uitroep: “Die Here sal vir ewig regeer, jou God, Sion, van geslag tot geslag!” My geslag kan dié vreugdesformule beaam, God
van Jakob, én God van ons vir wie U aangeraak het.

Die vreugde van Advent borrel in my op as ’n halleluja tot U. Here, U laat my geslag deel in die geluksaligheid van mense wat die God van Jakob as hulp het. Ons leef reeds in die saligheid wat U beloof. Ons hoop wat Advent aanvuur, is in U gesetel, Here, ons God, Vader van Jesus Christus.

Here, wat hemel en aarde gemaak het, u ewige trou omsluit die reg van verdruktes, voed die hongeres met brood, bevry hulle wat vasgevang is in verknegting, laat blindes weer sien, rig teneergedruktes op. U het die regverdiges lief. En, U het my óók bevry. Ek behoort aan U.

Halleluja!

Amen

Geskryf deur Dr Eddie Orsmond

RCL JAAR A – DERDE WEEK VAN ADVENT