‘Laat ons dan deur Hom voortdurend ‘n lofoffer aan God bring – dit is die vrug van lippe wat sy Naam saam bely.’ Hebreërs 13:15 AFR20

’n Offer is ’n geskenk wat eerbetoon bewys, en volgens die outeur van Hebreërs is die belydenis van Jesus se Naam só ’n lofoffer aan God.  Dan gaan hy verder deur te sê dat hierdie offer van belydenis voortdurend gebring moet word. Die 1983-vertalings sê: onophoudelik.

Wat presies beteken dit om Jesus se Naam te bely, en hoe is dit moontlik om dit onophoudelik te doen?

Volgens die Verklarende Afrikaanse Woordeboek, is die definisie van bely om jou oortuiging openlik te verklaar, of te erken. Die Amplified Bible vertaal dan ook juis die gedeelte as ‘… lips that thankfully acknowledge and confess and glorify His name.’

Hoe voer ’n mens dit egter prakties uit? Ons kan tog nie die hele tyd oor Jesus praat nie. Omstandighede laat dit net eenvoudig nie toe nie.

In sy brief aan die Efesiërs, skryf Paulus hoé ons as Christene veronderstel is om te praat:

‘Vuil taal moet daar nooit uit julle mond kom nie; praat net wat goed en opbouend is volgens die eis van omstandighede, sodat dit julle hoorders ten goede kan kom.’ Efesiërs 4:29

Met ander woorde, elke keer wanneer jy jou mond oopmaak, behoort mense te kan hoor dat jy ’n volgeling van Jesus is. En dít is hoe jy voortdurend sy Naam bely. Want onthou, wat die hart van vol is loop die mond van oor (Luk. 6:45), en as Jesus werklik Koning van jou hart is, dan sal jou woorde altyd ’n lofoffer aan God wees.

Dit is egter nie net jou woorde wat belangrik is nie. In Hebreërs 13:16 gaan die outeur voort deur te sê:

‘En moenie versuim om goed te doen en mededeelsaam te wees nie, want God het behae in sodanige offers.’ Hebreërs 13:16 AFR20

Goeie dade is ook ’n belydenis van jou geloof en ’n lofoffer aan God.

Let in die week wat voorlê op jou woorde en dade. Wend ’n daadwerklike poging aan om Jesus se Naam voortdurend te bely in alles wat jy sê en doen.

Geskryf deur Madeleine Venter