Gebed na aanleiding van Psalm 146 (lees 2020-vertaling)
Here, vandag oriënteer die psalmis my weer aan die alfabet met die ABC van ons geloof in diens aan U. Die aansporing tot lofprysing herinner ons aan die sentrale plek wat die Psalms aan lof en die eer van u Naam toeken vir ons geloofsalfabet.
Wat my opnuut tref, Here, is die vroomheid van die psalmis. Volgens dié bidder is die ganse lewe ’n lied van lof waarin u handelinge met die skepping en elkeen van ons geprys word. So bou die laaste vyf Psalms op tot ’n crescendo van lof.
Eers (146:1) rig die bidder ’n individuele oproep waarin hy sy siel aanspoor om U te loof, Here. Dan verskuif die oproep tot lofprysing na die gemeente (147) van God, en wyer na die kosmiese magte; son en maan (148:3). En dit is nie al nie!
Vir die psalmis sluit lofprysende vroomheid elke aspek van lewe in. Die kosmiese magte omsluit die mense versameling vir wie U liefhet, Here (149). Daarom kán my/ons geloofsalfabet lofprysend wees in universele betuiging tot u eer (150).
Here, die psalmis se diep vroomheid van lof tot eer van u Naam, word telkens in die Psalms weerspieël. Die vyftal lofliedere wat die Psalter afsluit (146-150), getuig van ’n einde aan alle droefheid, swaarkry, sorge en verlange. Ons hoop is in U!
Die psalmis ken ook die Egiptiese Hallel, Here. ’n Versameling lofliedere (113-118) wat na die ballingskap in Israel gegroei het in erkenning dat U die Redder is. Uit hul omstandighede het die gelowige Jode u Naam
bely; lofprysend erken U is hul betroubare Skepper.
Dan is daar die Groot Hallel van Psalm 136, Here: “Prys die Here, want Hy is goed – want vir ewig duur sy troue liefde.” So leer die psalmis my weer vandag die geloofsalfabet en lê klem op lofprysing as ABC van vroomheid wat op God vertrou vir lewe en sterwe.
Dankie vir die grondslag vir lof wat U vestig, Here: “Gelukkig is die mens wat die God van Jakob as hulp het.” Amen
Geskryf deur Dr Eddie Orsmond
RCL JAAR C – SESTIENDE WEEK VAN KONINKRYKSTYD