Na aanleiding van Psalm 72 (lees 2020-vertaling)
Here, ons Psalm word aan Salomo toegedig. As koning uit die huis van Dawid bid hy vir sy roeping en die taak deur U aan hom opgelê. Hy is bewus van sy tekortkominge én afhanklikheid van U. Hy begeer u wysheid en geregtigheid in
die uitvoering van sy taak as Israel se herder en regeerder.
U plaas dié gebed op ons harte, Here, by ’n konkrete historiese moment in Suid-Afrika en die wêreld; ’n tyd van wantroue en teleurstelling in politieke leiers. Dit is ook Advent in die Christelike Jaar, terwyl ons verlang na die weerkoms
van u Messias-koning, Jesus die Christus.
Here, ons Adventsverlange en toekomsblik op die koms van die Vredevors wat u vredesryk kom vestig, ontmoet die onvolmaakte werklikheid van ons bestaan hier en nou. Terwyl ons droom oor en verlang na ’n regverdige toekoms vir alle mense, leef ons van dag tot dag in ’n gebroke werklikheid.
Ons ervaring van dié aardse gebrokenheid in die lig van die Adventshoop en -verwagting, Here, gee ons perspektief vir hoe om in dié tyd vir leiers en regeerders te bid. Die psalmis se getuienis dat die Here God alleen wonders doen, verskuif ons gebedsfokus na u kenmerkende eienskappe.
Die psalmis se lofprysende vroomheid, beweeg ons om met deernis vir ons leiers te bid. Dat U barmhartig en liefdevol is, Here, wek die versekering in ons hart dat juis dit die eienskap is waarvoor ons by U moet intree vir ons leiers: Mag leiers se optrede versterkend wees soos wanneer reënbuie gras voed.
Here, wanneer ons vir regeerders by U intree, open U ons oë vir die wêreld, ons gemeenskap en land, elke individu en alle groepe wat ons demografie saamstel. U hart brand vir magteloses. U is ’n Vader vir kinders van behoeftiges. U handel met onderdrukkers, want U verlang geregtigheid en billikheid.
Dankie vir Salomo se les oor gebed vir ons regeerders, Here. Dankie vir Advent wat ons oog op die toekoms rig en ons laat uitsien na die koms van die ideale Koning. Maar, U roep ons elkeen om vandag te bid en u koninkryk te laat kom. Ons gebed vir regeerders is ook ’n gebed vir ons eie lewe.
Ek prys u luisterryke Naam sodat u heerlikheid die aarde vul.
Amen
Geskryf deur Dr Eddie Orsmond
RCL JAAR A – TWEEDE WEEK VAN ADVENT