Gebed na aanleiding van Psalm 113 (lees 2020-vertaling)
Here, vandag reageer ek in gebed op die psalmis se opdrag, aanmoediging en oorreding tot ’n algehele lewenshouding van lofprysing. Ek beleef die psalmis se aansporing van u diensknegte om u Naam te prys as omvattend en alles-insluitend.
Here, ek sluit my aan by u diensknegte wat ’n loflied tot u Naam aanhef in die aanbiddingsdiens. Dáár vergader gelowiges om mekaar te herinner wie U is en wat U in ons lewe gedoen het. Maar, mý loflied gaan buite mure uit en oor grense heen.
Die lof van u Naam, Here, ken geen perke nie. So getuig die psalmis. Net só beleef ek die oorredingskrag van u heerlikheid en deernisvolle liefde vir u skepsels. Daarom begeer ek, u dienskneg, om u Naam te prys; van nou af tot in ewigheid.
Here, die lof wat U toekom oor die grootheid van U Naam, omspan elke tydsdimensie. Dit is ewigdurend. Die lofprysing van u diensknegte strek oor alle ruimtes heen; van waar die son opkom tot waar dit ondergaan. U gee aan tyd en ruimte inhoud.
Here, wanneer ek stotterend probeer vertel hoe U inhoud gee aan tyd, ruimte en geskiedenis, moet ek u heerlikheid en grootheid in menslike taal verwoord. U is hoog bo al die nasies, u heerlikheid strek verder as die hemel wat ons met die oog kan sien.
Maar, Here, ten spyte daarvan dat U hoog en verhewe is, sien U alles raak wat U gemaak het op aarde en in die hemel. Indien U wel hoog daarbo is, kyk U ook laag af op die aarde waar hulpeloses in die stof ploeter op ’n wêreld wat swakkeres liefdeloos verstoot.
Here, my begeerte en onderneming om u Naam te prys, word diep gemotiveer deur u deernis vir die geringstes in ons samelewing. U heers met erbarming en mededoë. In u oë is almal gelyk. U ontferm U oor behoeftiges en onvrugbare vroue.
Here, ek loof u Naam. U troue liefde is onpeilbaar.
Amen
Geskryf deur Dr Eddie Orsmond
RCL JAAR C – VYFTIENDE WEEK VAN KONINKRYKSTYD