Dis weer Moedersdag en skuins na 05:30 word daar al in die kombuis gewerkskaf. Jy sien die ding staan so. Mamma moet ontbyt in die bed kry. Dit is die tradisie in ons huis.
Om en by 06:30 word daar met groot lawaai in die gang afgestap. Elkeen wil iets dra en Pa sien hier kom moeilikheid, maar elkeen wil iets dra. Met ʼn groot gesukkel kom die hele spannetjie in die kamer. Slegs ʼn koffie blerts hier en daar en een repie spek wat in die slag gebly het. Dis onvergeetlik om die twee gesiggies te sien wat vir Mamma met oorgawe vertel hoe lief hulle haar het en dat hulle nie eers baklei het terwyl hulle kos gemaak het nie.
Die interessante deel kom egter wanneer hierdie bord kos dan in die bed geniet moet word. Die kinders is definitief meer opgewonde as Ma en Pa oor hierdie abnormale eetposisie.
Ek wonder altyd hoeveel happies Mamma self gekry het want hulle duik met oorgawe in haar bord kos. Toe ons Sondagaand gaan slaap moes ek nog stukkies eierwit en broodkorsies uit die bed haal. Ek het net gegiggel want dis mos hoe dit moet wees.
Jy kan geen prys koppel aan dit wat in ʼn kind se hart gebeur die oomblik wat hy of sy beleef dat hulle ʼn impak in Ma of Pa se lewe gemaak het nie.
My rustige bepeinsing hieroor was egter van korte duur. Totale pandemonium breek los! Jongste slaan vir oudste met ʼn trekker teen die kop. Woedend reageer oudste met ʼn arsenaal vuishoue op sy boetie se rug, dat dit klink of hy “Thunder” van AC/DC op ʼn stel dromme speel.
Vir ʼn halfuur is dit totale chaos. Trane loop, Pa moet ingryp en ja uiteindelik word die boutlepel ingespan en meteens het ek geen vriende meer nie. Darem is Mamma nog lief vir my!
Tye soos hierdie wonder ek soms of ek regtig in staat is om kinders groot te maak. Dit voel asof ek net geen beheer het nie. Dit voel of jy as ouer net wil hardloop en hardloop in ʼn rigting en nooit stop nie. Soms wil ek die kamerdeur toetrek, sluit en net los dat hulle mekaar gryp. Hulle sal mos in ʼn stadium ophou?
Dinsdag na Moedersdag lees ek raak: “Life doesn’t come with a manual, it comes with a mother.”
ʼn Paar minute later is daar weer groot donderweer, blitse slaan, die weer dreun so hard ek kan nie hoor nie. Helaas, dit is nie donderweer nie, dit is weer twee boeties wat ʼn storm veroorsaak. Met mening loop ek in die gang af in ʼn prentjie wat nooit uit by gedagtes sal verdwyn nie.
Sy in al haar glorie.
Mamma staan met sussie in haar arms terwyl die bevele uitgespel word. Stemtoon wissel van bevel na bevel en alles gebeur nou vir my in super slowmotion. Die bevele word uitgevoer, die donderweer verander in ʼn sagte reënbui. Hoe op dees aarde?
Na ʼn paar minute hoor ek hoe ʼn bewerige stemmetjie iets prewel: “Jammer mamma, ek wou nie boetie seermaak nie. Ek is lief vir mamma … soooooo baie”, terwyl hy met sy armpies uitgestrek probeer wys hoe baie.
Mamma het net die manier om … terwyl Pappa die manual soek … al die regte dinge te doen. Spontaan hoor ek myself saggies met die Here praat: “Dankie Here, dankie vir Mamma. Soms wonder ek of U nie dalk ʼn Mamma is nie, want in elke Ma beleef ek u Godheid.”
Pa gee liefde en respek, leer ons kinders om die regte pad te kies en te loop. ʼn Pa is die skouers waarop kinders staan, die rigtingaanwyser vir hul drome en die noodsaaklikheid vir hul sekuriteit en eiewaarde. Pappas kan rammel soos donderweer, hulle kan sag soos reën wees. Pappas is die super hero en hulle is onmisbaar deel van ʼn kind se lewe …
Maar Mamma is die manual.
Dink maar net aan jouself. Daar is tye wat jy net teen Mamma se bors wil wees. Tye waar net ʼn Ma kan troos. Ek is mal oor ons kinders, ek sal my lewe vir hulle gee en ek sal jou lewe tot ʼn aaklige einde bring as jy iets sou doen aan my kinders. Ek staan met liefde (al brom ek) tien keer ʼn nag op as dit moet, raak aan die slaap met ʼn siek kind in my arms. Ek lees met liefde dieselfde storie vyf keer per week.
Ek leer hulle bal skop, leer hulle boomklim, fietsry en van goeie maniere.
Dan gebeur wat vandag gebeur het. Ons kom by die huis van die skool af. Ek maak broodjies met eier en kaas. Skelm kry ek milkshake by die restaurant, want Mamma is nie hier nie, ons kan milkshake drink, giggel, net ons manne.
Halfpad deur ete begin een huil, dan huil albei.
Wat gaan aan, vra ek met ʼn irritasie in my stem. Ek het dan alles gedoen? Hier kom die antwoord nou.
“Hoekom is Mamma nog nie terug van die Kaap af nie? Ek wil nou vir Mamma ʼn drukkie gee.”
Dankie Mammas, dankie dat julle ons so koester en dat julle die rowwe see laat bedaar. Dat julle donderweer in sagte reën laat verander. Ons is vir julle lief want julle is … die manual.
– Wynand Olivier, Swellendam