‘Maar ons leef in die verwagting van ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde wat God belowe het en waar die wil van God sal heers.’ 2 Petrus 3:13

Advent is ’n tyd van verwagting. Ons vier nie net Jesus se koms as Immanuel nie, ons sien ook uit na Sy wederkoms.

In 2 Petrus 3, skryf die apostel breedvoerig oor die wederkoms, maar ook oor die oordeel wat daarmee gepaard gaan.

‘Maar die dag van die Here sal so onverwags soos ‘n dief kom. En op dié dag sal die hemel met ‘n groot gedruis verdwyn, die hemelliggame brand en tot niet gaan, en die aarde met alles wat daarop is, vergaan.’ 2 Petrus 3:10

Dit is beslis nie ’n lekker vooruitsig nie, en tog is dit onlosmaaklik deel van die wederkoms waarna ons met soveel verwagting uitsien.

Waarom is dit belangrik om hierdie waarheid voor oë te hou?

Petrus gee die antwoord in die volgende vers:

‘Aangesien al hierdie dinge so aan hulle einde gaan kom, moet julle des te meer vroom en aan God toegewy lewe.’ 2 Petrus 3:11

Soos wat dié dag nader kom, word dit al hoe belangriker vir ons om toegewy aan God te lewe. Die tyd vir lou wees is verby. Die tyd vir gemaklike Christenskap ook.

In vers 14 skryf Petrus verder:

‘Daarom, geliefdes, terwyl julle hierdie dinge verwag, moet julle julle daarvoor beywer om vlekkeloos en onberispelik voor God, en in vrede met Hom, te lewe.’ 2 Petrus 3:14

Gelukkig is ons nie aan ons eie lot oorgelaat nie. Die Here weet hoe moeilik dit is om teen ons sondige natuur in te gaan. Daarom het Hy aan ons die Heilige Gees gegee.

Laat Hy jou gedagtes nuut maak en jou treë rig. Wy jouself toe aan Bybelstudie en tyd vir gebed. Verkondig die Evangelie oral waar jy gaan en met elke geleentheid wat jy kry.

Waarna ons, as Christene, met verwagting uitsien, is die nuwe hemel en aarde waarvan ons deel gaan wees omdat ons, deur te glo in Jesus Christus as ons Verlosser, vrygespreek is. (Gal. 5:5; Rom. 10:10; Op. 22:1-5; Jes. 65:17; Op. 21:4)

Waarna ek ook met my hele hart uitsien en voor hoop, is dat my geliefdes, en almal wat my pad kruis, saam met my daardie poorte sal binnestap op die dag wat Jesus weer kom.

‘Jesus sê toe weer: “Kyk, Ek kom gou! Ek bring die loon saam met My om elkeen te beloon vir wat hy gedoen het. Ek is die Alfa en die Omega, die Eerste en die Laaste, die Begin en die Einde. “Geseënd is dié wat hulle klere was, sodat hulle reg kan hê op die boom van die lewe en deur die poorte in die stad kan ingaan.’ Openbaring 22:12-14

Geskryf deur Madeleine Venter