Die profeet Jeremia het homself in ’n hopelose situasie bevind. Die volk se dae was getel en God se straf was reeds op hulle.
Hy wat Jeremia was het dit beter as enige iemand anders geweet – dit was juis omdat hy hierdie boodskap verkondig het, dat hy nou ’n gevangene in die paleis se binnehof was. Ongewild en in lewensgevaar.
En tog gee God aan hom die opdrag om ’n stuk grond te koop.
Jeremia was gehoorsaam aan die Here, en hy het die grond gekoop. Maar hy het sy bedenkinge daaroor gehad.
Luister na sy worstelende gebed in Jeremia 32:24-25: ‘Daar is beleëringswalle teen die stad opgegooi om dit te verower, en die stad is deur die swaard en hongersnood en pes oorgegee in die mag van die Galdeërs wat daarteen veg. Wat U gesê het, gebeur nou. U sien dit self. En tog sê U, Here my God, vir my: ‘Gaan koop vir jou ‘n stuk grond met silwer en sorg dat jy getuies het,’ en dít noudat die stad in die mag van die Galdeërs gegee is.”’
Miskien bevind jy ook vandag jouself in ’n situasie waar jy wonder of dit ooit nog die moeite werd is om aan te hou. Waarom moet jy enigsins nog verder probeer? Is al jou tyd en moeite nie verniet nie?
Dan is God se antwoord aan Jeremia ook vir jou:
‘Ek is die Here die God van al die mense. Is iets vir My onmoontlik?’ Jeremia 32:27
Die grond wat Jeremia moes koop, ten spyte van ’n hopelose situasie, was ’n teken. God wou daardeur sy volk aanmoedig om steeds ’n toekomsverwagting te hê.
Ons sien dit ook in Jeremia 29, waar Hy aan dié wat hulleself in ballingskap bevind die opdrag gee om huise te bou, tuine te plant, te trou en kinders te kry. Hy beveel hulle selfs om die belange van Babel te bevorder en vir die stad te bid! Waarom? Want Hy het ’n plan met hulle gehad.
‘Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle ‘n toekoms gee, ‘n verwagting!’ Jeremia 29:11
Geen situasie waarin jy jouself bevind is te groot vir God om te hanteer nie. Al lyk dit ook hoe hopeloos, Hy is en bly in beheer.
Net soos wat Jeremia die stuk grond moes koop, en die ballinge moes aangaan met hulle lewens, net so moet jy ook aanhou en deurdruk. Jy kan met verwagting uitsien na die toekoms wat God vir jou beplan.
Voordat jy moedeloos word en opgee, onthou, niks is vir God onmoontlik nie.
Hou vandag aan hierdie wete vas.
Geskryf deur Madeleine Venter