Ek weet van heelwat mense wat Christenskap vaarwel geroep het na aanleiding van ’n ander Christen se optrede. Daar is baie voorbeelde hiervan, en ek is seker daarvan jy ken ook ’n paar.
Ja, jou redding hang nie af van die prediker, die voorsanger, of die ouderling nie, maar dit is nou maar eenmaal so dat jou geloofslewe daaronder lei wanneer iemand na wie jy opkyk se kleivoete verbrokkel. En dit is glad nie iets wat ons ligtelik mag opneem nie. Hoor hoe sterk voel Jesus hieroor:
‘Hoe jammer tog vir die wêreld dat daar dinge is wat die mens afvallig maak! Sulke dinge kom noodwendig, maar wee die mens deur wie dit kom.’ Matteus 18:7
Wanneer jy, as Christen, ’n swak voorbeeld stel, kan jy baie groot skade aanrig. Dit is nie ’n geldige verskoning om aan te voer dat jy maar net ’n sondige mens is wat ook foute maak en steeds elke dag Jesus se vergifnis nodig het nie.
Volgens God se Woord, het jy die Heilige Gees, en as jy Hom toelaat om jou lewe te beheer is dit moontlik om nie volgens jou sondige natuur op te tree nie. Paulus het dit só aan die Galasiërs verduidelik:
‘Wat ek bedoel, is dít: Laat julle lewe steeds deur die Gees van God beheers word, dan sal julle nooit swig voor begeertes van julle sondige natuur nie … Dié wat aan Christus Jesus behoort, het hulle sondige natuur met al sy hartstogte en begeertes gekruisig. Ons lewe deur die Gees; laat die Gees nou ook ons gedrag bepaal.’ Galasiërs 5:16; 24-25
Moenie ’n struikelblok wees nie. As draer van Christus se Naam, moet jy doelbewus meer bedag wees op jou leefwyse. Onthou, daar is elke dag, en oral waar jy gaan, mense wat jou raaksien en iets by jou leer. Miskien is daar selfs iemand wat jou dophou en vir wie jy ’n rolmodel is. Maak ’n punt daarvan om sondige gewoontes te laat staan. Bestudeer die Woord vir riglyne om sout en lig te kan wees.
Dit kom alles neer op Jesus se gebod van liefde. Omdat jy God liefhet, wil jy nie meer sondig nie, en omdat jy jou naaste liefhet, wil jy vir hulle ’n goeie voorbeeld stel.
Laat die Gees jou gedrag bepaal.
‘Let goed op jou lewe en jou leer, volhard daarin, want deur dit te doen, sal jy jouself red sowel as dié wat na jou luister.’ 1 Timoteus 4:16
Geskryf deur Madeleine Venter