‘As julle kwaad word, moenie sondig nie, en moenie ‘n dag kwaad afsluit nie. Moenie die duiwel vatkans gee nie.’ Efesiërs 4:26-27
Dit is heeltemal normaal om kwaad te word, en daar is ook niks daarmee verkeerd nie. Daar is egter twee dinge waarteen Paulus ons waarsku vir wanneer ons kwaad word. Die eerste is om nie in die proses te sondig nie, en die tweede is om nie ’n dag kwaad af te sluit nie.
Hoe sondig ’n mens wanneer jy kwaad word? Ons kry die antwoord so ’n entjie verder in Efesiërs 4:
‘Moet nooit verbitter of opvlieënd wees of woedend word nie; moenie vloek of skel nie; moet niks doen wat sleg is nie.’ Efesiërs 4:31
’n Mens is verbitterd wanneer jy ’n wrok koester. Daarom word ons gedurig aangemoedig om te vergewe, en nie so maklik aanstoot te neem nie. Woede uitbarstings gaan gewoonlik gepaard met ’n gevloek en ’n geskel. Paulus sê nie ons mag maar so optree wanneer ons die dag smoorkwaad is nie, nee, hy sê ons moet nooit so optree nie.
Waarom moet ons nie ’n dag kwaad afsluit nie, en hoe gee so ’n gewoonte die duiwel vatkans in jou lewe?
Dit is wetenskaplik bewys dat om kwaad te gaan slaap ’n negatiewe uitwerking op jou geestesgesondheid kan hê. Terwyl jy slaap, herorganiseer jou brein negatiewe emosies, wat dit dan baie moeiliker maak om hierdie emosies later te verwerk. Die gevolg is dus dat ’n probleem, wat heel moontlik maklik opgelos kon geword het, in jou onderbewussyn gaan lê en ’n kerngeheue word wat jou emosies en verhoudings op ’n daaglikse basis beïnvloed.[i] Wend eerder ’n poging aan om te versoen – of sit ten minste die proses van versoening aan die gang – voordat julle nag sê.
Noudat jy verstaan waarom Paulus ons waarsku teen hierdie twee dinge, wonder jy seker nou hoe jy dan veronderstel is om op te tree wanneer jou bloed kook.
In vers 32 gee hy hierdie raad:
‘Wees goedgesind en hartlik teenoor mekaar, en vergewe mekaar soos God julle ook in Christus vergewe het.’ Efesiërs 4:32
Om iemand goedgesind te wees, beteken dat jy nie só negatief teenoor daardie persoon ingestel is dat jy jou oor elke klein dingetjie vererg nie. Met sommige mense is dit moeiliker as met ander omdat ons persoonlikhede en uitgangspunte verskil. Dit is egter belangrik dat jy, as kind van God, na mense kyk deur die bril van Jesus se liefde en genade.
Wanneer jy hartlik is, tree jy met opregte vriendelikheid op. Nie met vooropgestelde agendas nie. Dan sal jy ook nie so maklik aanstoot neem as iemand nie reageer soos wat jy gehoop het nie.
En dan moet ons natuurlik vergewe soos wat God ons in Christus vergewe het. Dit is nie ’n maklike taak nie, maar met die Heilige Gees se hulp is dit beslis moontlik. Raak sommer vandag nog van daardie wrokke wat jou so verbitterd en opvlieënd maak ontslae.
[i] https://www.theguardian.com/science/2016/nov/29/never-go-to-bed-angry-study-finds-evidence-for-age-old-advice
Geskryf deur Madeleine Venter