Ons het seker al almal ´n glas té vol gegooi. Sodat die vonkelwyn of koeldrank skielik in groot bolle skuim oor die rand van die glas loop en jy vervaard ´n groot sluk neem of die glas vir die volgende persoon aangee. Dis amper ´n refleks. Want dis maklik om met oorgawe te sluk of uit te deel wanneer jou glas só vol is dat dit gaan mors. Jy hoef nie twee keer daaroor te dink nie. Wie dink immers aan sente omdraai of versigtig werk wanneer die oorvloed jou so onverwags oorval soos ´n propvol glas vonkelwyn.

Miskien sal ons oor die algemeen makliker uitdeel as ons voel dat ons met vol glase loop: geld, besittings, tyd, liefde of genade. Indien jou eie glas – jou tenk – vol is, dink jy nie twee keer oor uitdeel of noodreserwes nie. Jy wonder nie of daar môre genoeg oor sal wees of waar jy weer ´n vars voorraad gaan kry nie. Jy deel uit, want jou glas is tot boordens toe vol. Jy lewe uit dié oorvloed van dit wat jy ontvang het.

As jy só oor die saak nadink, hang dit seker baie af van wat jy in jou beker het, en waar jy dit volmaak. Indien jy die inhoud van jou beker byvoorbeeld in rand en sent meet, en versigtig somme maak om seker te maak dat gee en neem balanseer, sal jy dalk nie altyd so geredelik uitdeel nie. Dis moeilik om te gee wanneer jy vermoed dat jou voorraad eersdaags gaan opraak. Of wanneer jy in jou bron twyfel trek.

En hoe kan jy telkens vergewe, met oorgawe liefhê, of jou tyd of  besittings deel wanneer jy eers versigtig somme maak en seker maak dat jou geskenk nie leeg na jou gaan terugkeer nie?

Dit is eers wanneer ons by die Bron van die Lewe, die Groot Gewer, gaan stil word, dat ons waarlik besef hoeveel ons het om te gee. Sonder ophou. En sonder ´n noodtoestand of dag Zero.

“Uit sy oorvloed het ons almal genade op genade ontvang,” skryf die apostel van die liefde, Johannes. By Jesus is daar oorvloed, en daarom kan ons genade op genade ontvang. Nog en nog. En nie net genade nie, maar ook die lewe in oorvloed. Genoeg. Ons kan ons versadig drink by die strome van lewende water wat elke dag en elke môre nuut is. ´n Ewige, onuitputlike bron.

Die Here se volumes werk anders en sy maatstok is nie soos ons s’n nie. Hy kyk anders na ons bekers en ons vermoë om uit te deel. Wanneer ons voel asof ons net ´n klein bietjie het om te gee, kan die Here ons harte raaksien en ons vissies en broodjies gebruik om ´n skare mense te voed. Die bietjie olie en meel tot ons beskikking sal nie opraak nie, self al klop dit nie met ons eie syfers nie.

“U sorg vir my,” skryf Dawid. “´n Pragtige deel is vir my afgemeet.” En ´n paar Psalms verder: “My beker loop oor.”

Ons kan lig lewe en sonder om twee keer te dink, uitdeel. Genade, liefde tyd en geld. Ons kan groot slukke vat en ons glas vir die volgende persoon aangee. Want daar sal môre nog wees. Nog en nog. Ons kan inderdaad lewe uit dié oorvloed.

 

Geskryf deur Susan Goosen