Na aanleiding van Psalm 104:1a, 24-34, 35b (lees 2020-vertaling)

Here, dit is asof die viering van die Gees se uitstorting op Pinksterfees, my oë opnuut oopgemaak het vir wat in die wêreld rondom my aangaan. Vandag sien ek asof met oë wat herskep is, weer hoe omvangryk u handewerk is. Die aarde vertoon oraloor tekens dat alles aan U behoort.

Soos die psalmis is ek skerper bewus van ontelbare diere en plante op aarde wat van U afhanklik is, Here. Ek sien u hand in die waters van die see met wemelende lewende wesens én hoe menslike kreatiwiteit vaartuie ontwerp om die spel van lewe saam met U en u skepsels te speel.

Die diverse kleurvolheid van unieke skepseltjies wat almal opsien na U, laat my in verwondering, Here. Wat U my laat sien is ’n ryk geskakeerde werklikheid wat ruimte maak vir interaktiwiteit tussen elke vorm van lewe waarin U u asem geblaas het. Die skoonheid van u skepping oorweldig my.

Here, die werke van u hande bring my innerlike in beweging. Ek kan nie anders as om diepsinnig te peins oor wat ek sien, oor wat dit aan my gees doen en oor hoe ek oor U, die Bron van als dink nie. Dankie dat U ons uitnooi om oor die diepte en omvang van u skeppingswerk te mag wonder.

Die eenvoud en diepte van die slotsom waartoe my herskape oë my lei, Here, is verrassend en bevrydend. Alles wat ek sien en beleef, is deur U in die lewe gebring. U bepaal die duur vir bestaan van elke skepsel. U versorg en voed alles en almal. U omvorm die aardkors sodat ons daarin tuis kan kom.

Here, ek waag dit om oor U te peins. Dit verskaf my vreugde as daar by my insigte daag waarvan ek tot nog toe onbewus was. My hartsbegeerte is dat ek met ontsag en eerbied oor U werke mag peins, en dat ek my indrukke oor u openbaringe met die nodige erkenning en afhanklikheid met ander sal deel.

Here, noudat my oë weer oopgegaan het vir u vingermerke in die skepping, verlang ek na ’n toekoms waar u majesteit ewig duur, ’n toekoms waarin U vreugde vind in u handewerk. Mag elke skepsel u heerlikheid erken en verkondig. Mag u kinders se oë aangeraak word om u liefdevolle sorg raak te sien.

Ek wil vir die Here sing solank ek leef. Ek wil my God besing solank ek bestaan.
Amen

Geskryf deur Dr Eddie Orsmond
RCL JAAR A – WEEK NA PINKSTERFEES