Die meeste van ons is maar doodgewone mense, en dit mag dalk vir jou voel asof jou lewe nie juis veel tel nie.
Die waarheid is egter, dat jou lewe soveel tel soos wat jy dit wil laat tel.
Dis maklik om net weg te raak tussen elke dag se besig wees. Maar dis nie wat volgelinge van Jesus veronderstel is om te doen nie. Elkeen van ons het die opdrag om te evangeliseer. Jy hoef nie ’n kerkleier te wees, of as sendeling na ander lande te reis nie. As jy, net daar waar jy jou nou bevind, een mens na die Here toe lei, het jou lewe reeds meer betekenis. Ons lees in Lukas 15, dat daar blydskap in die hemel is selfs wanneer net een sondaar tot bekering kom.
In Efesiërs 2:10 staan daar: ‘… God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het.’
God het reeds beplan wat jy as gelowige vir sy koninkryk gaan doen. En dis nie al nie, jy is spesiaal geskep om dit te doen!
Moenie die belangrikheid van dit wat jy doen geringskat nie. Al lyk dit hoe onindrukwekkend. Nie almal van ons is bedoel om voltyds in die bediening te staan nie.
’n Wonderlike voorbeeld hiervan, is die verhaal van hoe Charles Spurgeon tot bekering gekom het.
Een Sondagoggend, in 1850, het ’n bedrukte, vyftien-jarige Charles by ’n stegie ingedraai opsoek na skuiling teen ’n sneeustorm. Hier het hy homself skielik in ’n klein Metodiste kapel, met net ’n handjievol mense, bevind. Die prediker was heel waarskynlik nog iewers deur die sneeustorm vasgekeer.
Toe dit naderhand begin lyk asof die prediker nie gaan opdaag nie, het daar ’n arm skoenmaker uit die groepie uit opgestaan. Hierdie doodgewone man het uit Jesaja 45:22 gelees, en voortgegaan deur die Skrifgedeelte met sy luisteraars te bespreek.
Volgens Spurgeon kon die man nie eens al sy woorde ordentlik uitspreek nie, maar was dit steeds presies wat hy moes hoor. Deur die krag van die Heilige Gees, het dit op vrugbare grond geval en wortelgeskiet in Charles Spurgeon se hart. Oor daardie dag sou hy later skryf: “There and then the cloud was gone, the darkness had rolled away.”
Ons almal weet wie Charles Spurgeon was, en dat hy duisende mense deur sy prediking bereik het, maar ons weet nie eens wat die skoenmaker se naam was nie. In God se koninkryk het daardie skoenmaker se lewe egter net soveel betekenis gehad as dié van Charles Spurgeon.
Peter Drucker het gesê: “The only worthy goal is to make a meaningful life out of an ordinary one.”
Begin vandag daarmee deur Kolossense 3:23 jou lewensleuse te maak: ‘Wat julle ook al doen, doen dit van harte soos vir die Here en nie vir mense nie.’
En laat jou lewe tel.
Geskryf deur Madeleine Venter