Generic selectors
Exact matches only
Search in title
Search in content
Post Type Selectors
Search in posts
Search in pages
wpfc_sermon
wpfd_file

‘Jesus het gesê: “Hoe is die koninkryk van God? Waarmee kan Ek dit vergelyk? Dit is soos ‘n mosterdsaadjie wat iemand gevat en in sy tuin geplant het. Dit het gegroei en ‘n boom geword, en die voëls het in sy takke kom nes maak.” Verder het Hy gesê: “Waarmee kan Ek die koninkryk van God vergelyk? Dit is soos suurdeeg wat ‘n vrou geneem en in twintig kilogram meel ingewerk het totdat dit heeltemal deursuur was.”’ Lukas 13:18-21

Sukses word meestal in hoeveelhede gemeet. Die hoeveelheid mense wat met ’n uitreik tot bekering kom. Die aantal ekstra stoele wat op ’n Sondag ingedra moet word. Hoeveel boeke verkoop is. Hoeveel keer daar na ’n liedjie of ’n preek geluister word. Dit is nou maar net so. Om te voel dat ons ’n verskil maak, tel die reël: hoe meer, hoe beter.

Natuurlik is groot getalle ’n goeie rede om breed te glimlag, en natuurlik mag ons dit ook vier. Maar, die probleem is dat ons dan soos mislukkings voel wanneer die getalle laag is.

Die Amerikaanse sendeling, Adoniram Judson, kon na drie jaar in Birma (nou Mianmar) slegs een persoon tot bekering lei. En na twaalf jaar, was daar net twaalf gemeentelede in die kerk wat hy en sy vrou gestig het. Maar hierdie skynbaar onvrugbare missie, tesame met groot persoonlike verliese, het hom nie gekeer om steeds die volledige Bybel in Birmaans oor te vertaal nie. Teen die einde van sy leeftyd is duisende deur sy bediening tot bekering gelei.[i]

In Mianmar is Christene egter vandag nog in die minderheid, en word hulle onderdruk en vervolg.[ii] Dit laat ’n mens wonder of al die opofferings en hartseer wat Adoniram moes deurmaak ooit die moeite werd was.

Die antwoord is, ja, dit was, want in God se koninkryk werk dinge anders. Wanneer Jesus die gelykenis oor die verlore skaap vertel, sê Hy dat daar vreugde in die hemel is wanneer een sondaar tot bekering kom. Nie eers wanneer daar ’n mylpaal van sê, vyftig of honderd bereik word nie, nee, net een bekeerling word reeds gevier. (Luk. 15:1-7)

Dit bly maar ’n moeilike konsep om te begryp in ’n wêreld waarin groot syfers saak maak. Tog is dit ’n kopskuif wat ons as Christene moet maak.

Moenie moedeloos raak omdat die Bybelverse en Christelike boodskappe wat jy op sosiale media deel min reaksie kry nie. Moet ook nie soos ’n uitgeworpene voel as jy die enigste een tussen massas is wat Christelike waardes nastreef nie. Solank jy net gehoorsaam is aan jou roeping, maak getalle nie saak nie, want in God se koninkryk is selfs ’n bietjie eintlik ontelbaar baie.

Net een saadjie is nodig vir ’n groot boom om te groei, en net ’n bietjie suurdeeg word by brooddeeg ingewerk om dit te laat reis.

Onthou dit hierdie week: Niks wat jy vir God se koninkryk doen is nutteloos nie, al voel dit ook vir jou hoe klein.

[i] https://holysojourners.com/10-impactful-missionaries-every-christian-should-know/

[ii] https://www.opendoors.org.za/afr/christelike-vervolging/wereldwaarnemingslys/mianmar/

Geskryf deur Madeleine Venter