Gebed na aanleiding van Psalm 32 (lees 2020-vertaling)
Here, in my gebed vandag, reflekteer ek oor geluk in die lewe. Die psalmis lê dié tema op my hart en nooi gelowiges om oor die waarde en betekenis van geluk te peins. Sy perspektief is dié van ’n saligspreuk wat U as geloofswoord aan ons mense skenk; salig, geseënd, gelukkig.
Ek weet van min mense, Here, indien enige, wat nié smag na geluk nie. Almal het behoefte aan die ervaring van diep innerlike vrede en harmonie. Elkeen begeer om te deel in ’n gemeenskap met vervullende verhoudings. Mense soek
geluk, maar helaas te dikwels waar dit nié tuis is nie.
Here, die psalmis se wysheid is verrasend. Sy geloofsinsig in wat vir mense geluk besorg, staan op twee pilare: enersyds, die pilaar van erkenning van sonde en die vernietigende effek daarvan op mense; andersyds, geloof in die Here: sonde verbreek vrede, God vergeef ons sonde.
Here, U oortuig my van die noodsaak om opreg en eerlik met die aard van sonde rekening te hou en sondeskuld in my eie lewe te erken. Die psalmis ken meer woorde om die wese van sonde te beskryf: oortreding, bedrog. Deur skulderkenning en boetedoening skenk U aan ons geluk.
Here, die psalmis se geloofsperspektief op ’n gelukkige lewe, het sy oorsprong in u vergewensgesindheid. U vergewe my oortredings, sonde, bedrog. U bedek die sonde wat my geluksaligheid steel. U hou nie my sondeskuld teen my
nie. Daarom móét ek tot U bid en nie stilbly nie.
Dankie vir die lewensles wat die psalmis aan u getroue volgelinge voorhou, Here. Die gebrek aan geluksaligheid en ’n verlies aan seën in u teenwoordigheid, meld ook aan in my liggaam wat van siekte pyn én in die ervaring dat selfs u
hand swaar op my rus, totdat ek tot besinning kom.
Here, dankie dat U my van sonde bevry en my die gawe van geluk in herstelde verhoudinge met U en my naaste laat beleef. U het aan my gewys U is die enigste fontein van geluk. U het my uitgenooi om eerlik te wees oor my sondeskuld en dit teenoor U te bely. Ek is ’n gelukkige mens, geluksalig!
Ontvang die jubelkrete waarmee U my omring, Here. Amen
Geskryf deur Dr Eddie Orsmond