Generic selectors
Exact matches only
Search in title
Search in content
Post Type Selectors
Search in posts
Search in pages
wpfc_sermon
wpfd_file

Eenmaal ´n hans hoender, altyd ‘n hans hoender.

Dit het ons gesin nou reeds keer op keer geleer. ‘n Wees kuiken, wat deur my dogter grootgemaak is, benader die wêreld geheel en al anders as die res van die gepeupel wat in die hoenderhok grootgeword het.

Jy kan hulle dit seker ook nie kwalik neem nie. ‘n Hans hoender ken immers die huis, self nadat hulle (herhaaldelik) die deur gewys is. Hulle weet hoe dit voel om snoesig in ‘n baadjie rondgedra te word, in die kamer te slaap en in die sitkamer op die bank te fliek. En hulle verstaan dat dit veel makliker is om deur die huis te stap as jy van die voortuin na die agtertuin wil stap. Kortom, wie sal dan tevrede wees met ´n doodgewone werfbestaan?

Ons eerste hans hoender het vir maande elke aand doelgerig terug huis toe gekeer, en as ons nie gekeer het nie, ‘n slaapplek vir die nag gesoek. Dit kon enige plek wees: op die rusbank, ‘n bed, binne-in die kombuiskas of wasbak en selfs eenkeer doodluiters bo-op die drukker. Want wie wil nou buite slaap as jy die huis ken?

Ons het ook ‘n hans hoender gehad wat botweg geweier het om hoenderkos te eet. Kombuiskos, en veral broodjies, is darem heelwat lekkerder. Jy kan dit steeds nie waag om jou toebroodjie of braaibroodjie in die tuin te gaan eet nie. Sy sal jou kry.

‘n Hans hen verseg ook om soos ‘n gewone hoender in die hoenderhok eiers te lê. (Ek het minder as twee weke gelede ‘n vars eier in my kamer gekry.) Met ons eerste hans hen het ons uiteindelik (na ‘n groot gesukkel), ´n middeweg gevind en ‘n kampeerstoel buite ons deur gelos. Dáár het sy elke dag getrou ‘n eier gelê (kompleet met ‘n glasie water langs haar). Maar op die grond, beslis nie. ‘n Hans hoender weet van beter. Hulle weet iets wat die ander nie weet nie, en hulle gaan beslis nie daardie gedagte laat gaan nie. Eenmaal ‘n hans hoender…

Ek dink daar is iets te sê vir hierdie benadering. Net soos die hans hoenders wat al ons lewens (en deurkosyne) gekruis het, weet ons ook mos van beter. Want ons het ‘n stukkie hemel in ons hart. Ons kan lewe met ‘n hoop en ´n verwagting dat daar iets beter is. Ons kan ook weier om gewoond te raak aan die doodgewone, die alledaagse. Ons kan weier om te aanvaar dat siekte en swaarkry en oorlog en armoede maar vir altyd ons lot is. Ons kan vas glo in ‘n beter plan, ´n beter toekoms. Ons kan weet en mekaar herinner dat God se storie vir sy kinders nooit by “sleg” gaan eindig nie.

“Een ding kan ek vas en seker weet,” het Paulus belowe. “Lyding, benoudheid, vervolging, honger, koue, gevaar en doodstyding gaan nie die laaste sê hê nie.” Dit is alles maar deel van die werfbestaan. Daar wag iets beter, iets veel beter. Al hierdie dinge moet ons trouens net daaraan herinner dat die oorwinning reeds behaal is, en dat Jesus reeds gegaan het om vir ons ‘n plek voor te berei. Die hoenderhok is nie ons lot, ons ware tuiste nie.

Soos die hans hoender, moet ons ook lewe met een oog op die agterdeur. Ons kan stil glimlag, en opgewonde uitsien na die lewe wat God vir sy kinders beplan. Ons is mos nie van hier nie. Eenmaal ‘n koningskind, altyd ‘n koningkind.

 

Geskryf deur Susan Goosen