LUKAS 16:1-13 (2020-vertaling)

Jesus vertel sy gelykenis oor ’n ryk man se bestuurder wat sy besittings verkwis het, op sy reis na Jerusalem (Luk 9:51-19:27, terwyl tollenaars en sondaars nader gekom het om na Hom te luister (Luk 15:1). Op die agtergrond staan die Fariseërs en skrifkenners (15:2; 16:14). In ons Skrifdeel praat Jesus met sy dissipels (16:1). Sy voorafgaande gelykenis was van ’n pa met twee seuns (15:11-32); hul beskouing van en deel in hul pa se besittings. Die jongste het sy erfporsie geëis, die huis verlaat en sy geld losbandig verkwis (15:13). Die oudste het tuis gebly, vir sy pa gewerk, maar nie vreugde ervaar in wat sy pa met hom gedeel het nie: “…vir my het u nooit eers ’n bokkie gegee sodat ek […] kon feesvier nie” (15:29). Uitgesonderd vers 16-18, handel die hele Lukas 16 oor Jesus se lering oor besittings.

Die tema van besittings is een van Lukas se primêre fokusse. In Lukas 12:13-21 praat Jesus oor gierigheid en vertel die gelykenis van ’n ryk man wat nuwe skure wil bou om die verwagte groot oes te stoor, sodat hy voorsiening vir homself kan maak. God beskou dié selfsugtige optrede as dwaasheid in die lig van die onverwagsheid van die dood. Aan wie behoort die aardse skatte dan? In Lukas 12:32-34 sê Jesus vir sy dissipels om hul besittings te verkoop vir liefdadigheid en te streef na die onuitputlike skat in die hemel. In Lukas 3:10-14 preek Johannes die Doper oor besittings en om te deel met ander wat nie het nie, asook dat soldate tevrede moet wees met hul loon. In Handelinge 2:43—6:7 skryf Lukas oor die Jerusalem gemeente se mededeelsaamheid en onderlinge sorgsaamheid.

Lukas 16 bestaan uit twee dele (verse 1-13, 14-31). Albei sluit ’n gelykenis in wat begin met die woorde: “Daar was ’n ryk man…” (verse 1, 19). Beide gelykenisse kom net by Lukas voor. Ons Skrifdeel het net vers 13 as parallelle uitspraak elders; in die Bergpredikasie (Matt 6:24), waar Jesus sy dissipels onderrig oor die koninkrykslewe. Lukas 16:1-13 bestaan uit ’n versameling materiaal oor besittings. Naas die gelykenis (vers 1-8a) en die Matteus 6:24 aanhaling (vers 13), is daar ’n reeks uitsprake in vers 8b-12. Soos Jesus in Lukas 11:1-13 sy dissipels onderrig oor gebed in drie onderskeie eenhede (verse 1-4, 5-8 en 9-13), wat waarskynlik by meer as een geleentheid aangebeid is, bied Lukas in ons Skrifdeel ook ’n samestelling van die tema oor besittings uit verskillende Jesus uitsprake.

Die uitdagende aspek van Jesus se gelykenis in vers 1-8 is dat die eienaar sy verkwister-bestuurder prys nadat die eienaar sy bestuurderskap weggeneem het. Jesus vertel dié gelykenis as les aan sy dissipels oor hoe Jesus volgelinge oor besittings moet dink. Hy gebruik die slinkse toesighouer se vindingryke plan om ’n positiewe eienskap van dissipelskap aan te dui. Ons moet natuurlik kennis neem van die ekonomiese praktyke van destyds om die optrede van die bestuurder te beoordeel. Sonder om op ingewikkeldhede in te gaan, registreer ons die feit dat die eienaar sy bestuurder se verkwisting ernstig genoeg opgeneem het om hom daaroor te ontslaan. Dié uitdienstelling was vir die bestuurder ’n krisis wat vir sy toekoms beslissend was.

Die plan wat hy bedink laat die eienaar hom te prys. Hy keur nie die verkwisting goed nie, maar erken sy wysheid om die guns van sy werkgewer se skuldenaars te wen, sodat hy in die toekoms op hulle kan steun vir lewensonderhoud. Jesus leer sy dissipels om toekomsgerig te leef met die oog op die krisis van die eindtyd. Hy kritiseer die Jode én sy dissipels oor hul gebrek aan insig in en erkenning van hul afhanklikheid van God. Hy lê klem op betroubaarheid en eerlikheid met betrekking tot besittings wat ons toevertrou word (vers 10-11). Jesus roep sy gehoor tot onverdeelde lojaliteit aan God: “Julle kan nie God en Mammon die nie” (vers 13). Dissipels móét erken hulle lewe is in God se hande. Wat ons ookal mág besit, kom van God af. Aan Hom moet ons verantwoording doen. Wie God se toekoms in die oog hou, leef hier en nou met die integriteit van God se bestuurder oor God se besittings.

Geskryf deur Dr Eddie Orsmond

TOERUSTING VIR DISSIPELSKAP IN DIE WêRELD WAARHEEN GOD ONS STUUR
Vyftiende Week van Koninkrykstyd – Jaar C