‘Ons is soos ’n aangename geur wat ander mense van Christus bewus maak. Ons versprei die wonderlike aroma van Christus tot eer van God. Almal wat met ons te doen het, weet daarvan: dié wat in Hom glo, en ook dié wat op pad is na die dood toe.’ 2 Korintiërs 2:15 DB

Wanneer jy iets ruik, is dit omdat chemiese deeltjies deur die lug beweeg om uiteindelik deur die reseptore in jou neus geïnterpreteer te word as ’n aangename, of onaangename geur.

Jou brein onderskei dan tussen moontlike gevaar – soos ’n brand, gaslek en kontaminasie – of iets aangenaam soos ’n jakarandaboom se blomme, tuisgebakte brood, en die parfuum van iemand na aan jou hart. ’n Doodsreuk of ’n lewensgeur.

Net soos wat die reuk van iets jou daarvan bewus maak, net so word ander bewus van Christus wanneer hulle met jou te doen het. Hulle kan Jesus as’t ware aan jou ruik.

‘Vir dié wat verlore gaan, is dit ‘n doodsreuk wat dood bring; vir dié wat gered word, is dit ‘n lewensgeur wat lewe wek …’ 2 Korintiërs 2:16a

Paulus leer ons egter dat nie almal wat hulleself Christene noem dié lewensgeur met hulle saamdra nie. Luister aandagtig na wat hy sê:

“ … En wie is tot sulke dinge in staat? Ons, omdat ons nie is soos baie ander wat geld maak uit die woord van God nie. Ons verkondig die woord in opregtheid, in verbondenheid met Christus, in opdrag van God en in verantwoordelikheid aan God.’ 2 Korintiërs 2:16b-17

Met ander woorde, jy versprei Jesus se lewensgeur wanneer

  • jy die Woord met ’n opregte hart, sonder selfsugtige bybedoelings, verkondig ( 6:1),
  • deurdat jy in Jesus bly, en sy woorde in jou ( 15:5-8),
  • omdat jy Jesus se laaste opdrag ernstig opneem ( 28:19),
  • en jou verantwoordelikheid wil nakom om die boodskap wat aan jou toevertrou is oor te dra (2 Kor. 5:19).

Lug beweeg in draaikolke en turbulente paaie wat geure op onvoorspelbare maniere dra. Net so versprei Jesus se lewensgeur soms op maniere wat ons nie verwag nie.

Jy mag dalk nie eens besef dat ander Jesus aan jou ruik nie. Jy mag dalk ook nie besef hoe ver die reuk trek en wie almal daardeur bereik word nie.

Wat ’n wonderlike voorreg is dit nie om die lewensgeur van Christus saam met ons te dra nie! Onthou dít oral waar jy die week gaan.

Geskryf deur Madeleine Venter