Na aanleiding van Psalm 33:1-12 (lees 2020-vertaling)
Here, aan die begin van die lang seisoen van Koninkrykstyd in die Christelike Jaar, peins ek oor u heerskappy op aarde en oor die ganse skepping. Ek moes diep delf om te besef wat gepas is vir ’n volgeling van Christus wat U gelowig wil dien en getrou wil leef binne die ruimte wat U vir ons skep.
Ek wil my graag assosieer met diegene vir wie die Psalmis tipeer as regverdiges en opregtes, Here. Ek het gaandeweg deur u genade tot die insig gekom dat juis hulle gelukkig is, omdat U hulle/ons God is en U elkeen wat U vrees as u eiendom gekies het – elke individu, volk en nasie.
Wat my verder inspireer in my bepeinsinge oor die lewe van regverdiges en hulle vir wie U as geluksalig beskryf, Here, is die aard en kwaliteit van hul verhouding met U. Die Psalmis se woordeskat bevat woorde soos jubel, loflied, dank, besing, snaarinstrumente, uitroepe van vreugde. Ek wil daarin deel!
Here, die opregte mens leef in ’n intieme verhouding met U. Dit maak hom/haar gelukkig. Hulle het u geopenbaarde wese gesien, dit ernstig opgeneem en dit in hul karakter gevestig. U woord is reg en u werke is betroubaar. U is lief vir reg en geregtigheid. Ek wil U met my hele wese en van harte dien!
Here, dit is ’n groot voorreg dat ons mense nie allerlei dinge hoef te doen om U te leer ken nie. U plaas ons in die ruimte van u skepping en maak ons bewus dat U die Een is wat als tot stand gebring het. U openbaar Uself aan ons. Gelukkige mense herken u troue liefde omdat die aarde daarvan vol is.
Hoe pragtig teken die Psalmis die manier waarop U geskep het en voortgaan om u skeppingswerk in stand te hou, Here. Hy getuig van u gesproke woord wat die hemele gemaak het, die asem van u mond wat die hemelse engeleskaar opwek. U beheer die watermassa van die seë soos in ’n kalm dam.
Here, wonderlik is die wete dat u raadsplan vir ewig bestaan, dat die planne wat U bedink strek oor geslagte heen. Omdat U dit aan my openbaar het, sing ek my nuwe lied vir U. Ek weet nou wat is die gepaste lewenshouding vir regverdiges wat U wil dien: ek dank U, Here, met elke moontlike klank.
Amen
Geskryf deur Dr Eddie Orsmond
RCL JAAR A – TWEEDE WEEK VAN KONINKRYKSTYD