‘En nou doen ek ‘n beroep op julle, broers, op grond van die groot ontferming van God: Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen.’ Romeine 12:1
Dawid moes op die dorsvloer van Arauna ’n altaar vir die Here bou sodat die plaag wat God oor Israel gebring het weggeneem kon word. Die koning was bereid om die dorsvloer by Arauna te koop, maar hy wou dit verniet aan Dawid gee. (2 Sam. 24; 1 Kron. 21)
‘Hierop het die koning vir Arauna gesê: “Nee, ek koop dit beslis van jou teen die volle prys. Ek bring nie aan die Here my God offerandes wat my niks kos nie.” Dawid het toe die dorsvloer en die beeste vir sowat ses honderd gram silwer gekoop.’ 2 Samuel 24:24 (eie klem)
Om werklik jouself as lewende en heilige offer aan God te gee, beteken dat daar groot veranderinge in jou lewe plaasvind:
- Jou gedagtes word nuut, en jy dink heeltemal anders oor dinge. (Rom. 12:2; Ef. 4:23; Fil. 4:8)
- As tempel van die Heilige Gees, verheerlik jy God in jou liggaam, en wil jy nie meer die begeertes van jou sondige natuur bevredig nie. (1 Kor. 6:19-20; Gal. 5:16-21; Rom. 8:13)
- Alles wat jy sê en doen, doen jy nou as ’n verteenwoordiger van Christus – asof jy dit vir God doen, en nie om die eer van mense te soek nie. Wanneer jy roem, roem jy in die Here. (Kol. 3:17; Mat. 5:16; 1 Kor. 1:31)
- Jy dink voordat jy praat. Vloek nie meer nie, maak nie meer vuil grappe nie, en praat net wat goed en opbouend is vir jou aanhoorders. (Ef. 4:29; Kol. 3:8-9)
- Jou grootste taak is om die Evangelie uit te dra. Jy maak gebruik van elke geleentheid wat oor jou pad kom, en jy weet hoe jy elkeen behoort te antwoord. (Kol. 4:5-6; Mark. 16:15; 2 Tim. 4:2)
Dit wat jy kry is veel groter as dit wat jy opoffer. Deur jouself as lewende offer aan God te gee, kry jy in ruil daarvoor vrede wat alle verstand te bowe gaan, lewe in oorvloed, bonatuurlike gawes van die Gees, volmaakte vreugde, Goddelike beskerming en sorg, die Heilige Gees se leiding, en nog soveel meer. (Fil. 4:7; Joh. 14:27; Joh. 10:10; 1 Kor. 12:1-11; Joh. 15:11; Rom. 15:13; 1 Pet. 5:7; Ps. 91; 1 Joh. 2:27; Rom. 8:17)
Ek wil jou uitdaag om deur die loop van die week die Skrifverwysings wat ek hier gedeel het te bestudeer. Dit sal beteken dat jy tyd moet opoffer, maar dit is ’n prys wat die die moeite werd is om te betaal. Herhaal vandag Dawid se woorde aan jouself: Ek bring nie aan die Here my God offerandes wat my niks kos nie.
Geskryf deur Madeleine Venter