Generic selectors
Exact matches only
Search in title
Search in content
Post Type Selectors
Search in posts
Search in pages
wpfc_sermon
wpfd_file

‘Elkeen moet gee soos hy hom in sy hart voorgeneem het, nie met teensin of uit dwang nie, want God het die blymoedige gewer lief. ‘ 2 Korintiërs 9:7

Hoe gee ’n mens met die regte gesindheid?

Ongelukkig is daar ’n paar verwronge leerstellings wat daartoe bydra dat baie Christene die verkeerde idee het van wat dit beteken om te gee.

As jy gee met die verwagting om iets inruil daarvoor terug te kry, dan gee jy met die verkeerde gesindheid. Die waarheid is, God skuld jou niks. Hy het reeds sy lewe vir jou gegee. (1 Pet. 2:24; 1 Tess. 5:10)

Wanneer jy op ’n Sondagoggend jou bydrae in die kollekte bordjie sit omdat mense jou gaan skeef aankyk as jy dit nie doen nie, gee jy ook met die verkeerde gesindheid. Dan gee jy onder dwang. Ook as jy groot skenkings maak of uithelp met uitreike in die hoop dat jy die een of ander erkenning daarvoor sal kry. Dit gaan dan meer oor wat ander mense van jou dink. Jesus het hierdie tipe van ingesteldheid veroordeel en gesê dat as jy vir die armes gee, jou linkerhand nie moet weet wat jou regterhand doen nie. (Mat. 6:1-3)

Die enigste manier om met die regte gesindheid te kan gee, is deur jouself heeltemal uit die prentjie te laat. Dan sal jy vir net een rede jou hand oopmaak, en dit is, omdat God se liefde in jou is.

Dit moet die dryfveer agter alles wat jy doen wees: Liefde.

‘Al deel ek al wat ek het aan ander uit, en al gee ek my liggaam prys om my daarop te kan beroem, maar ek het geen liefde nie, baat dit my niks.’ 1 Korintiërs 13:3

Jesus het aan ons die opdrag gegee om mekaar lief te hê, en een manier om daardie liefde te demonstreer, is deur jou seëninge met ander te deel. Jy moet soveel liefde en deernis vir jou medemens hê, dat jy nie anders kan as om te gee nie.

Dan moet jy glo dat God steeds in jou behoeftes sal voorsien. Dít is die eintlike boodskap agter die beloftes wat die ‘Prosperity Gospel’ verdraai het: Jy hoef nie terug te hou uit vrees dat jy tekort gaan skiet nie, nee, jy sal altyd genoeg hê vir jouself en vir ander. (Spr. 11:24-25; 19:17; 22:9; 2 Kor. 9:8)

Daar is natuurlik ook die geldige redenasie dat sommige mense juis vanaf die wal in die sloot gehelp word deur vrygewige mense. Hier, glo ek, is wysheid nodig. Onthou dat jy uit liefde die beste vir jou medemens wil hê. Laat die Heilige Gees jou lei in hoe, en aan wie, jy gee.

‘Wie aardse besittings het en sy broer sien gebrek ly, maar geen gevoel vir hom het nie – hoe kan die liefde van God in hom wees? ‘ 1 Johannes 3:17

Laat God se liefde deur jou werk in alles wat jy doen, en met almal wat jou pad kruis hierdie week. Wie weet? Jy is dalk net die antwoord op iemand se gebed.

 

Geskryf deur Madeleine Venter