Generic selectors
Exact matches only
Search in title
Search in content
Post Type Selectors
Search in posts
Search in pages
wpfc_sermon
wpfd_file

 

Onlangs neem my twaalfjarige dogter deel aan ʼn kortkuns skryfkompetisie. Ek laat haar begaan, sodat sy heeltemal spontaan haar tema kies en verwoord. Ek haal hierdie gedeelte aan uit haar werk “Die Glasuur”:

“Mamma se foon bo-op die klavier maak ʼn harde geluid. Ek spring op, sodat die klavierstoeltjie net-net op sy twee agterpootjies balanseer. Ek ken my takie: neem die selfoon vir Mamma as daar ʼn boodskap ingekom het. Ek tel die elektroniese voorwerp op. Op die skerm verskyn ʼn stukkie van die boodskap. Ek sien dis van Mamma se jonger broer en ingedagte lees ek die eerste stukkie. Ek steek in my spore vas. Die wêreld begin draai en tuimel. My kop raak swaar en ek voel naar! My bors trek toe en my bene bewe. Ek wil gil, maar my keel is dik. My ore suis soos skulpe. Dis nie moontlik nie. Dit kan nie wees nie! Dit kan net nie! ‘Hoe gaan dit met jou na die kanker uitslae? Soos ʼn glas wat kletterend val, spat my lewe in hierdie uur aan skerwe. “

Ek het twee dae van tevore vir ʼn mammogram gegaan. Die bedoeling was nie om die inligting van ons kinders te weerhou nie, die regte oomblik moes bloot nog geskep word om ons drietjies – twee tienerseuns en ʼn jong dogter – daaroor in te lig. Dis nie ʼn ligtelike taak nie.

Lig. Watter veelsydige woord. My eerste assosiasie daarmee is tweërlei: God se Lig en “The lightness of being”. Hoe versoen ʼn mens hierdie mooi kwaliteite met jou denke in ʼn tyd wat tipies as die donkerste tyd in ‘n mens se lewe beskryf word? Dit is onafwendbaar dat ʼn mens die woord “kanker” met dood assosieer, veral wanneer dit sy spore in jou eie lewe kom trap.

Dag drie na die uitslae sit ek op my sitkamerbank en kuier met ʼn besorgde vriendin. Ek is nie bang vir doodwees nie, maar nogal bang vir doodgaan, sê ek. Doodwees is op ʼn goeie plek, in ʼn hemel by ons Vader, waar Hy vir ons belowe dat ons ongekende vreugde en vrede sal geniet. Geloof is om te vertrou in dit wat jy nie kan sien nie. Ek glo. Ek vertrou. Doodwees gaan al my aardse verwagtinge van vreugde en vrede verreweg oortref. Doodgaan, ʼn paadjie wat ons almal gaan stap, wel op verskillende maniere, het nie dieselfde belofte van gemoedsrus nie!

Ons braai saam met vriende op die stoep. Soos maar maklik gebeur by ʼn informele kuier bly ʼn wynglas in die slag toe ʼn kind te vinnig na die tjipsbak gryp. Die skerwe spat oor die stoep. Soos wat die glas kort van tevore op my vrolike handgeverfde tafeldoek gestaan het, sal dit nooit weer lyk of wees nie. Die laaste strale van die son vang onverwags ʼn groterige glasstuk teen só ʼn invalshoek dat daar ʼn pragtige reënboog van kleur teen die wit stoepmuur kaats. Lig, wat soveel beloftes skep. Lig, wat verborge kleur uit ʼn stuk gebroke glas na vore gebring het op die mees onverwagte oomblik! Ten spyte van die feit dat my mooi wynglas tot niet is, bring hierdie stukkie glas vir my ʼn porsie vreugde.

Die skerwe van onsself – miskien ʼn gebroke hart, miskien ʼn gebroke liggaam, dalk ʼn gebroke selfbeeld of droom – wat ons in die lewe moet optel is legio. Selfbehoud wanneer ʼn mens stukkend voel, is in ʼn baie groot mate ʼn instinktiewe behoefte. Fisiologies en psigies is ons liggame toegerus om te wil oorleef. Ons Skepper het ons so gemaak en ons is dankbaar daaroor. Wat die mensdom dikwels uit die oog verloor is dat die hele reis van oorlewing en herstel, op watter vlak ook al, in afhanklikheid van God behoort te wees. Ons eie instink is bloot ʼn gedeelte van die pakket.

ʼn Kankerdiagnose is ʼn hamerhou op ʼn mens se hele wese. Daar is moontlik baie hoekoms en waaroms wat jy kan vra wanneer so ʼn trauma oor jou pad kom. Die gevolglike reis saam met God is asembenemend. Daaroor meer in ʼn volgende skrywe. Wanneer ek God se liggewende liefde toelaat om te skyn op die skerwe van my gesondheid, vind ek ʼn reënboog van goeie gunste wat God oor my pad stuur.

My koorvriendinne sit die “kostrein” aan die gang sodat my vrieskas oorloop. Ek kry bosse en bosse blomme – heelwat daarvan is pragtige proteas ingevoer van die Kaap (want jy bly mos in jou hart ʼn Bolandse meisie, al woon jy nou al twintig jaar in Namibië). In die chemokamer met sy lieflike personeel sit ek nooit alleen nie, want daar is klokslag twee of drie getroue vriendinne wat kom saamkuier dat die oggend sommer vinnig verbygaan. Met elke chemoterapiesessie word ek aan huis bederwe met ʼn ondersteunende kuiergas – my ouers, my suster, ʼn vriendin wat sommer uit pure omgee en liefde vanaf Stellenbosch in die Kaap vlieg om te kom hand bysit.

Gaan haal die skerwe van jou seerkry uit die donker kas. Laat dit lig kry. Kyk daarna – oor en oor. Maak oop jou hart en gemoed en raak oortuig daarvan dat iets verrassends goed uit die gebrokenheid gaan voortspruit. Jou Vader begeer om sy reënboog van seën teen die muur van jou lewe te kaats. Vra, en dit sal vir jou gegee word. Soek en jy sal vind.

 

Rolien Schaaf

 

[Rolien gaan in ‘n opvolg verder grondig skryf oor haar persoonlike reis saam met God.]