November is nie my gunsteling maand nie. Allesbehalwe. Ek hou besonder baie van Desember en van die vars begin in Januarie, en die begin van lente, of die maande waarin ons gesin verjaarsdae en ander mylpale vier. Maar November val nie in een van daardie kategorieë nie.
November is nogal ´n “raakvat” en “vasvat” maand – ´n maak-of-breek maand. Kop-af en dryf. Klaarmaak. Dit is ook nóú die tyd wat jy bestek van die afgelope jaar doen en die doelwitte op jou lysie afmerk. Om van die vergete Nuwejaarsvoornemens nie eers te praat nie! Het jy toe wel 10 kg verloor, ´n halfmarathon gehardloop, jou kredietkaart afbetaal of geleer om beskuit te bak? En hoe lyk jou huis of onderneming se finansies? Leef jy groener, het jy uiteindelik die Bybel deurgelees en lyk jou verhouding met jou huweliksmaat of tieners nou gesonder as ´n paar maande gelede?
Vir ons kinders is dit eksamentyd. ´n Tyd om te bewys dat jy wel in die klas opgelet het, geleer het en jou saak en feite ondubbelsinnig kan stel. Teen einde November sal ons almal min of meer weet of ons hierdie jaar die “paal gehaal” het. Indien jy hierdie jaar lyf weggesteek het, of te veel lyf bygekry het en toe nooit by Park Run uitgekom het nie, kan November ´n uitdagende en vermoeiende maand wees. ´n Tyd van oordeel. Dit is nou neusie verby.
Of is dit? Moet ons regtig so swaar dra aan die las van mislukking en verspeelde geleenthede? Ons God is immers ´n God van tweede kanse. Van nuut begin. Van vergifnis.
Sedert die heel eerste misstap, Adam en Eva se eerste sonde, het God gewys hoe groot sy genade is. Hy het die eerste twee mense se verleentheid en onsekerheid raakgesien. Hy het nie sy rug op hulle gedraai nie. En toe die Israeliete, God se volk, deur die geskiedenis telkens weer vergeet en weer oortree het, het God nooit opgehou om hulle God, hulle Vader, te wees nie. Wanneer hulle bely het, het God vergewe. Weer en weer. En weer. En toe nog ´n keer. In Januarie, April, November en tot in Desember. Sy genade was elke maand en elke môre nuut.
En toe, toe het Hy ook sy Seun na die wêreld gestuur. Om ´n nuwer en beter verhouding met die mens te bou. “Gaan dan, en sondig nie meer nie,” het Jesus gesê. “Jy is vergewe. Jou geloof het jou gered.” “Ek kan. Word gesond.” “Staan op, vat jou bed en loop.” Begin oor. Jy mag weer probeer. Soos die Vader in die verhaal van die Verlore Seun, wil God die Vader vir ons weer ´n kans gee. Ten spyte van dit wat verkeerd geloop het, dit wat ons nie reggekry het nie en daar waar ons weereens gefaal het.
En net soos die oudste broer in hierdie laaste verhaal, moet ons ook leer om mekaar ´n tweede kans te gee. Dié mense ná aan ons het ons dalk hierdie jaar teleur gestel. Hulle het dalk nie aan ons verwagtinge voldoen nie – nie die paal gehaal nie. “Vergewe mekaar. Sewentig maal sewe,” het Jesus gesê. “Aan julle liefde sal julle geken word.”
In die maand van November, die maand van spertye, jaareindfunksies, en ´n doller-as-kop-af skedule, kan ons opnuut dankbaar wees vir genade. Tweede kanse. Staan op. Kyk op. En loop. Daar is genoeg genade om weer te probeer.
Deur Susan Goosen