‘Op die laaste dag, die groot dag van die huttefees, het Jesus daar gestaan en uitgeroep: “As iemand dors het, laat hy na My toe kom en drink! Met die een wat in My glo, is dit soos die Skrif sê: Strome lewende water sal uit sy binneste vloei. ” Hiermee het Hy na die Gees verwys, want die mense wat tot geloof in Hom kom, sou die Gees ontvang. Die Gees was nog nie uitgestort nie, omdat Jesus toe nog nie verheerlik was nie.’ Joh. 7:37-39
Tydens die Huttefees is daar ʼn spesiale seremonie in Jerusalem gehou. ‘n Priester sou water uit die Siloambad skep en die volgende Skrifgedeelte uit Jesaja 12:3 aanhaal: ‘Met blydskap sal julle water skep uit die fonteine van redding.’ Dit was ’n vreugdevolle seremonie, wat gepaard gegaan het met koorsang en danse.
Die Siloambad was vir die volk simbolies van hierdie fonteine van redding. Die ware fontein van redding, die bron van lewende water, het egter lewensgroot daar tussen hulle gestaan, en uitgeroep: ‘As iemand dors het, laat hy na My toe kom en drink!’
Saam met Jesus se uitnodiging, kom die belofte dat dié wat in Hom glo, die Gees sal ontvang. Hy vergelyk die Heilige Gees met strome lewende water, en die Skrif waarna Jesus verwys kry ons uit Jesaja 58:11: ‘Die Here sal jou altyddeur lei; selfs in dor streke sal Hy in jou behoeftes voorsien. Hy sal jou sterk maak. Jy sal wees soos ‘n tuin met volop water, soos ‘n fontein waarvan die water nie opdroog nie.’
Met ander woorde, hierdie strome lewende water waarvan Jesus praat – die Heilige Gees – is soos ’n fontein wat nooit opdroog nie. ’n Fontein wat uit jou binneste vloei sodat jy soos ’n tuin met volop water kan wees. Vrugbaar vir die koninkryk van God.
Met sy Hemelvaart, het Jesus aan die dissipels belowe dat hulle binne ’n paar dae met die Heilige Gees gedoop sou word. Hulle sou dan die krag ontvang wat nodig gaan wees om die evangelie te verkondig.
Net soos wat Jesus belowe het, is die Heilige Gees tydens Pinkster op die gelowiges uitgestort. Van daardie oomblik af het strome lewende water uit hulle binneste gevloei.
Jy, as ’n gelowige, het ook die Heilige Gees ontvang. Jy is soos ’n welige tuin met volop water. Al die krag en wysheid wat jy mag nodig hê om Jesus se opdrag uit te voer, en vir Hom te getuig, borrel vanuit daardie fontein diep binne jou.
Onthou dit terwyl jy hierdie week saam met gelowiges regoor die wêreld Pinkster vier, en dank God vir die wonderlike gawe van die Heilige Gees.
Geskryf deur Madeleine Venter