‘As een van julle sê: “Ek is vir Paulus,” en ‘n ander: “Ek is vir Apollos,” is julle dan nie nog wêrelds nie? Wat is Apollos dan? Wat is Paulus? Hulle is maar net dienaars deur wie julle tot geloof gekom het, en elkeen doen die werk soos die Here dit vir hom gegee het.’ 1 Korintiërs 3:4-5
Om onderrig in die Woord te gee is nie net ’n opdrag nie, dit is ook ’n gawe van die Gees, en dit is goed om jou te laat onderrig. (Kol. 3:16; Rom. 12:7) Vandag het ons toegang tot ’n magdom leringe. Jy kan maklik oor enige onderwerp lees met net die klik van jou muis. Dit is ’n baie groot voorreg om sulke vrye toegang tot God se Woord en leringe te mag hê.
Ons moet egter altyd onthou dat diegene wat onderrig gee ook maar net mense is. Moet geen prediker op ’n troontjie sit en aan sy/haar lippe hang nie. Wanneer daardie kleivoete verbrokkel kan dit jou geloof groot skade aandoen. Dit is jou verantwoordelikheid om die Woord van God te ken, en jou deur die Gees te laat leer.
‘Wat júlle egter betref, die Gees waarmee Hy julle gesalf het, bly in julle, en julle het niemand anders nodig om julle te leer nie. Sy Gees leer julle alles, en wat Hy julle leer, is die waarheid en geen leuen nie. Ja, soos Hy julle geleer het, moet julle in die Seun bly.’ 1 Johannes 2:27
Dit is so maklik om ’n Bybelvers uit verband te ruk en verkeerde betekenis daaraan te gee. Wanneer jy nie die konteks waarbinne ’n spesifieke gedeelte voorkom ken nie, sal hierdie verkeerde betekenis meestal vir jou reg klink. Die geheim hier, is om nie net op een vers te fokus nie. Gaan lees die hele gedeelte wat hierdie vers voorafgaan, asook dit wat daarop volg.
Vergelyk Skrifgedeeltes uit verskillende vertalings met mekaar. Doen moeite om werklik te verstaan wat daar geskryf staan. Moenie bloot net op ’n mooi boodskap wat jou laat lekker voel steun nie.
‘want daar sal ‘n tyd kom wanneer die mense die gesonde leer nie meer sal verdra nie. Hulle sal hulle eie begeertes volg en vir hulle leermeesters bymekaarmaak wat net sal sê wat hulle graag wil hoor.’ 2 Timoteus 4:3
Die Een na wie jy moet luister, is die Heilige Gees. Spits jou ore hierdie week vir sy stem.
Geskryf deur Madeleine Venter