‘Toe het Maria ‘n halfliter egte, baie duur nardusolie gebring en dit op Jesus se voete uitgegiet en sy voete met haar hare afgedroog. Die hele huis is deurtrek met die geur van die reukolie.’ Johannes 12:3

Maria wou Jesus eer met ’n daad wat ongetwyfeld sou bewys hoe groot haar liefde vir Hom was. Sy het haar kosbaarste besitting op sy voete uitgegiet. Suiwer nardusolie.

Om mee te begin, was dit ’n baie duur olie. Iets wat ’n gewone mens nie sommer onder normale omstandighede sou besit nie. Die waarde van die fles olie wat Maria gehad het, was gelykstaande aan ’n jaar se loon. Vandag sal jy amper tweeduisend rand moet uithaal vir net tien milliliter van die ware Jakob.

Alhoewel daar nog bespiegel word oor waarvandaan Maria se olie afkomstig was, is die algemene veronderstelling dat dit wel gemaak was van ’n rare plant wat wild in die Himalajas groei, die Nardostachys jatamansi. ’n Groot hoeveelheid van hierdie plant se wortels word benodig om net ’n klein bietjie olie te verkry. Dit is dus ’n tydsame, arbeidsintensiewe proses – en Maria het ’n halwe liter daarvan gehad! Voeg dan daarby ook nog watse moeite dit moes gewees het om, in ’n tyd sonder moderne vervoermiddels, die olie vanaf Indië af te bring, en dit word selfs nog meer waardevol. Iets buitengewoon besonders.

Die olie het ’n baie kenmerkende reuk wat, lank nadat dit gebruik is, nog in die lug bly hang. Dit is veral deur adellikes gebruik, en was simbolies van eervolle uitsondering. Met ander woorde, dit was ’n reuk wat jy net aan iemand baie spesiaal sou geruik het.

Ons dink tydens Lydenstyd daaraan dat Jesus ons losgekoop het met sy bloed. Dít oortref alles in waarde. (1 Petrus 1:18-19)

Deur Homself as offer te gee, is daar nou vrede tussen jou en God. Daardie sondeskuld waarvoor jy met die dood sou moes betaal, is deur Hom afgelos. Jy het nou die ewige lewe.

Net soos Maria, behoort jy ook jou heel beste vir Hom te gee. Hoe dan anders? Die beste tyd van jou dag. Die beste van jou gawes en talente. Die beste wat jy kan doen met dit wat jy het.

Hy verdien niks minder nie.

‘Van alles wat aan julle gegee word, moet julle die beste en die mees gewyde deel as offergawe aan die Here bring.’ Numeri 18:29

 

Geskryf deur Madeleine Venter