Christenskap was nooit veronderstel om maklik te wees nie, en in ’n land waar daar vryheid van geloof is, is dit eintlik moeiliker om te verstaan.

Ons weet daar is lande waar gelowiges Jesus se woorde in Matteus 10:22 aan hulle lywe voel:

‘Julle sal ter wille van my Naam deur almal gehaat word. Maar wie tot die einde toe volhard, sal gered word.’ Matteus 10:22

Hy noem ook dat ’n leerling nie hoër as sy leermeester is nie, en dat die dissipels vervolging te wagte kon wees omdat Hý vervolg sou word. (Mat. 10:24-25)

As jy werklik ’n volgeling van jou Leermeester is, behoort jy ook vervolging te wagte te wees.

Vervolging is nie altyd net tronkstraf of fisiese marteling nie, dit is ook sosiale uitsluiting, bespotting en onregverdige aantygings.

Wanneer jy jouself in ’n situasie bevind waarin jy nie soos die meerderheid kan optree nie – omdat dit teen Christus se leringe ingaan – sal jy nie baie populêr wees nie.

Die vraag is egter, tot watter mate is jy bereid om Jesus se volgeling te wees?

Tot watter mate is jy bereid om hierdie woorde van Hom ernstig op te neem?

‘Toe sê Jesus vir sy dissipels: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis opneem en My volg,’ Matteus 16:24

Om jou kruis op te neem, beteken nie dat jy sonde agter elke bos moet gaan uitsnuffel nie. Jy leer mense nie van die Vader se liefde en genade deur die heeltyd veroordelings uit te deel nie. Paulus skryf dat ons altyd gereed moet wees met ’n antwoord en dat ons woorde vriendelik, opbouend en smaakvol behoort te wees. (Kol. 4:5-6)

Om jou kruis op te neem, beteken ook nie dat jy ’n martelaarshouding moet inneem nie. Selfbejammering dui nie nederigheid aan nie. Dit is eintlik ’n emosie wat uit selfgesentreedheid voortgebring word.

Om jou kruis op te neem beteken dat jy altyd, in alle omstandighede, die eer van Jesus se naam bo jou eie sal stel. Selfs al beteken dit teenstand of verwerping. Jesus sê:

‘“Elkeen wat hom voor die mense openlik vir My uitspreek, vir hom sal Ek My ook openlik uitspreek voor my Vader wat in die hemel is. Maar hom wat My voor die mense verloën, sal Ek ook verloën voor my Vader wat in die hemel is.”’ Matteus 10:32-33

Om ’n ware volgeling van Jesus te wees, is nie altyd maklik nie, maar jy kan verseker wees daarvan dat jy eendag daarvoor beloon sal word. (2 Tim. 4:7-8)

Hou dus moed. Neem jou kruis op. En volg Hom.

Geskryf deur Madeleine Venter