‘Al sou die vyeboom nie bot nie en daar geen druiwe aan die wingerde wees nie, al sou die olyfoes misluk en die lande geen oes lewer nie, al sou daar geen kleinvee in die kampe meer wees nie en die beeskrale sonder beeste wees, nogtans sal ek in die Here jubel, sal ek juig in God, my Redder.’ Habakuk 3:17-18

Habakuk het ’n nogtans sal ek-houding gehad. Al sou daar baie goeie redes vir hom wees om in sak en as te gaan sit, nogtans sou hy die Here prys. Sadrag, Mesag en Abednego ook. Ons lees in Daniel 3:16-18 hoedat hulle aan koning Nebukadneser sê dat God hulle uit die brandende oond kan red, maar, selfs al sou Hy dit nie doen nie, hulle nogtans nie die goue beeld sal aanbid nie.

Sekerlik die beste voorbeeld van iemand wat hierdie ingesteldheid gehad het, is Job. Nadat hy in ’n oogwink alles verloor het, van sy kleinvee tot al sy kinders, verklaar hy:

‘“Sonder iets het ek in die wêreld gekom en sonder iets gaan ek daaruit. Die Here het gegee en die Here het geneem. Prys die Naam van die Here.” Onder alles het Job nie gesondig of God iets verwyt nie.’ Job 1:21-22

Die rede waarom Job, hierdie drie vriende, en Habakuk, sulke dapper uitlatings kon maak, is omdat hulle iets besef het wat elke gelowige behoort te weet. En dit is, dat die God wat ons dien groter is as enige iets wat ooit oor ons pad mag kom.

Hy is groter as die magtigste wêreldleier. Groter as die verskriklikste natuurramp. Groter as die wreedste siekte. Groter as die mees gemene verraad. Jou grootste vrees. Jou donkerste nag. Jou duurste fout.

Deur dit alles, bly Hy God, en moet sy Naam geëer word. Ja, selfs wanneer jy nie verstaan waarom Hy sekere dinge toelaat om te gebeur nie.

Moenie op die negatiewe fokus nie. Verskuif jou blik na die Skepper van hemel en aarde. Jou Almagtige Vader. Hy is altyd by jou, en dit is ’n doelgerigte keuse wat jy moet maak om jou oë op Hom te hou. Dan sal jy ook daartoe in staat wees om Hom in alle omstandighede – goed of sleg – te prys.

Mag jy hierdie week saam met Dawid sê:

‘Selfs al gaan ek deur donker dieptes, sal ek nie bang wees nie, want U is by my. In u hande is ek veilig.’ Psalm 23:4

Prys die Naam van die Here!

 

Geskryf deur Madeleine Venter