MATTEUS 13:24-30, 31-33, 44-52 (Lees die 2020-vertaling)
Revised Common Lectionary vertoef ’n derde week by Matteus 13 se bondel gelykenisse van Jesus oor die koninkryk van die hemele. Ons Skriflesing handel oor vyf, moontlik ook ’n sesde gelykenis (vers 52, oor elke skrifkenner en die huiseienaar). Verklaarders verdeel die klompie gelykenisse in groepe. In vers 31-33 is twee sogenaamde van-klein-na-groot gelykenisse oor die mostertsaadjie en die suurdeeg. Vers 44-50 stel drie koninkryksgelykenisse aan die orde, oor die verborge skat, die kosbare pêrel en die net wat in die see gewerp word en ’n verskeidenheid visse intrek. Vers 51 vra na die dissipels se verstaan van die gelykenisse terwyl vers 52 hierdie deel van Jesus se lerende diskoers afsluit met ’n gesegde oor elke skrifkenner wat opgelei is vir die koninkryk van die hemele. Dié gesegde hou as’t ware die drie-delige gelykenisse bymekaar.
In die gelykenis van die mostertsaad is die fokus op die passiewe aktiwiteit van die kleinste vorm van saad wat uiteindelik in ’n enkele groei seisoen (tyd) uitgroei tot ’n baie groot (ruimte) boom wat skaduwee bied vir mens en dier, asook woonplek vir voëls. So word die groei van die koninkyk verbeel. Die uitduiende saad gee uitdrukking aan die opvatting dat die koninkryk van die hemele bestaan uit beide Jode en Heidene. Vanuit hierdie perspektief stel die gelykenis van die mostertsaad nuwe grense vir die koninkryk van die hemele. Anders as die Joodse opvatting van die tyd, staan die koninkryk van die helmele ook oop vir mense buite die Jodedom.
Die punt van die gelykenis van die (verborge) suurdeeg is dat die suurdeeg uiteindelik elke deel van die groot beslag meel deursuur, totdat elke deel geaffekteer is. So is die aktiwiteit van die suurdeeg en die sigbare effek daarvan in die deeg, uitbeelding van hoe die koninkryk van die hemele wat Jesus Christus aangekondig het, groei totdat almal die teenwoordigheid van die koninkyk van die hemele in die menslike samelewing en wêreld kan waarneem. Die erkenning van vroulike aktiwiteit in die publieke ruimte waar mans domineer, kondig eweneens ’n nuwe grens van die koninkyk van die hemele aan. Die koninkryk is ook oop vir sosiaal gemarginaliseerde mense.
Die gelykenis oor die verborge skat kan tipeer word as ’n storie oor die vind van ‘n onverwagse of toevallige waardevolle item. Die gelykenis fokus op die handelende agent en sy optrede. Hierdie persoon was nie deel van die bevoorregte elite nie. Met die ontdekking van die kosbare skat besef die man dat dit waardevol is en besluit om dit sy eiendom te maak. Hy reageer op die unieke geleentheid en sy respons word die draaipunt in sy lewe. Hy verkoop alles wat hy besit en koop die grond waarin die skat lê. Hy tree dus op ooreenkomstig die draaipunt in sy lewe. Dit is ook wat met iemand gebeur wie vir Jesus Christus ontmoet en sy boodskap van die koninkryk van die hemele ontvang. Hierdie pesoon herken Jesus en sy boodskap. Hy/sy reageer met totale oorgawe aan Hom. Oorgawe is ’n voorwaarde om ‘n dissipel van Jesus te wees.
Die gelykenis van die visserman se net lê nie in die eerste plek klem op die situasie waarin al die visse goed saam lewe nie. Die fokus is eerder op die onderskeiding tussen die goeie en slegte vis wat gevang is, ten einde die visserman se aanvanklike doelwit te bereik. In vers 49-50 word die betekenis van hierdie gelykenis verklaar. Die slegtes word uitgegooi. So sal dit wees by die voleinding van die tyd. Herken jy die nuwe en die ou dinge uit die skatkamers van die koninkryk van die hemele wat hierdie gelykenisse oopsluit?
Geskryf deur Dr Eddie Orsmond
TOERUSTING VIR DISSIPELSKAP IN DIE WêRELD WAARHEEN GOD ONS STUUR
Negende week in Koninkrykstyd – Jaar A