‘Maar moenie net aan die vroeëre dinge dink en by die verlede stilstaan nie. Kyk, Ek gaan iets nuuts doen, dit staan op die punt om te gebeur, julle kan dit al sien kom; Ek maak in die woestyn ‘n pad, Ek laat in die droë wêreld riviere ontspring.’ Jesaja 43:18-19
Daar kom ’n tyd in almal se lewens wanneer daar ’n nuwe rigting ingeslaan moet word. Miskien het jy pas matriek geskryf en staan jy op die drumpel van jou studentelewe. Of dalk betree jy juis hierdie jaar vir die eerste keer die grootmens-wêreld. Dit kan wees dat jy jou jaar begin in ’n nuwe huis, nuwe dorp, of selfs ’n nuwe land. Of miskien gaan jy vir die eerste keer ’n jaar binne sonder ’n geliefde aan jou sy.
Mens sien nie altyd ’n duidelike pad voor jou uitstrek nie. En baie keer sien jy geen pad nie. Dit is dan wanneer jy moet onthou dat jy hierdie jaar begin saam met ’n God wat daarin spesialiseer om paaie te maak deur die mees onherbergsame en onwaarskynlikste plekke.
‘Hy het die see oopgekloof en hulle laat deurtrek. Hy het die water laat opdam en dit het soos ‘n muur gestaan.’ Psalm 78:13
Ek dink altyd daaraan hoe huiwerig die Israeliete moes gewees het om daardie pad deur die see te vat. Hulle moes doodbang gewees het dat die watermuur enige oomblik op hulle gaan neerstort. En tog is hulle daar deur en anderkant uit op droë grond, want hulle het op God vertrou.
Moenie bang wees om vorentoe te beweeg omdat die pad vir jou onbekend is nie. Luister na hierdie mooi belofte uit Deuteronomium 31:8:
‘Die Here sal voor jou uit gaan. Hy sal by jou wees. Hy sal jou nie in die steek laat nie, jou nie alleen laat nie. Moenie bang wees nie, moenie skrik nie.’
’n Nuwe pad hou die belofte in van groei en vervulling. Wanneer jy uit vrees vir die onbekende besluit om te bly waar jy veilig en gemaklik voel, staan jy die gevaar om nooit jou volle potensiaal uit te leef nie.
Mag jy hier aan die begin van ’n nuwe jaar, ervaar hoe die Here vir jou ’n pad oopmaak en elke tree saam met jou stap.
Voorspoedige Nuwejaar!
Geskryf deur Madeleine Venter