Generic selectors
Exact matches only
Search in title
Search in content
Post Type Selectors
Search in posts
Search in pages
wpfc_sermon
wpfd_file

Daar kom tye oor elke mens se pad waarin dit voel asof jy die einde van jou kragte bereik het. Elke druppel energie is uit jou uit, en jy’t niks meer om te gee nie.

Fisiese en emosionele moegheid gaan hand aan hand, en dis gewoonlik wanneer jy moedeloos of hopeloos oor ’n situasie is dat jy ook liggaamlik uitgeput voel.

Natuurlik help dit om te sorg dat jy genoeg rus en gesond eet. Praat oor jou probleme is ook ’n goeie idee. Vra vir hulp en vertrou kundiges waar dit nodig mag wees.

Die goeie nuus is dat jy maar vir die Here ook mag vra om jou te help. Luister na Dawid se getuienis in Psalm 138:3: ‘Toe ek na U geroep het, het U my gebed verhoor en my nuwe krag gegee.’ En die Here belowe in Jeremia 31:25: ‘Ek gee nuwe krag aan dié wat moeg is, Ek maak die moedelose weer vol moed.’

Tog dink ons steeds dat ons op ons eie moet aansukkel, en nie mag aanspraak maak op hierdie krag van God nie. Die teendeel is dat God presies weet wat jy nodig het. Hy wil jou deur die Heilige Gees toerus vir wat dit ook al is wat jou pad vandag moeilik maak.

Al wat jy hoef te doen, is om op Hom te vertrou.

‘Hy gee die vermoeides krag, Hy versterk dié wat nie meer kan nie. Selfs jongmanne word moeg en raak afgemat, selfs manne in hulle fleur struikel en val, maar dié wat op die Here vertrou, kry nuwe krag. Hulle vlieg met arendsvlerke, hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle loop en raak nie afgemat nie’ Jesaja 40:29-31 (eie klem)

Vertrou op God se goedheid. Hy is lief vir jou, en Hy het ’n Goddelike plan vir jou lewe. (Jer.29:11)

Hy is in beheer van elke situasie wat jy in sy hande oorgee. Hy vra dat jy wat uitgeput is na Hom toe moet gaan. Hy sê dat jy wat bekommerd is maar alles vir Hom kan vertel. (Mat. 11:28; Fil. 4:6)

Onthou, jy is Sy kind, en hier is die belofte oor elkeen wat aan Hom behoort: ‘Selfs in hulle ouderdom sal hulle nog toeneem in krag. Hulle sal fris en lewenskragtig wees.’ Psalms 92:15

Mag jy hierdie week die onpeilbare krag van God beleef in dit wat jou uitput, en mag jy met nuwe moed vorentoe kyk.

 

Geskryf deur Madeleine Venter