Om God te sien, self te sien, is seker die hartsbegeerte van enige gelowige. Wanneer ons gebombardeer word met wêreldse nuus, vrae en onsekerhede, toekomsplanne en dinge wat bokant ons begrip is, wil ons soms soos Thomas uitroep: Ek wil eers self my hande in die merke in sy hande sit! Ek wil nie maar bloot hoop en seker wees van die dinge wat ek nie kan sien nie. En ek wil nie iemand anders se woord daarvoor aanvaar nie. Ek wil self sien.

Moses kon iets van so ontmoeting ervaar toe hy met God gepraat het oor die onseker toekoms van God se volk, die Israeliete. “Sê asseblief vir my wat u planne is, sodat ek kan weet wat U van my verwag?” het Moses gesmeek. “As U nie saamgaan nie, kan ons selfs nie een tree van hier af beweeg nie.” En toe het Moses dit verder gewaag: “Kan ek nie maar u heerlikheid sien nie?”

Ek verstaan hierdie versugting. As ons ´n stukkie van hierdie heerlikheid, ´n stukkie van God se grootheid en ´n stukkie van die hemel kan sien, self sien, sal ons aardse lewens sekerlik baie anders lyk. So ´n ontmoeting sal ons fokus geheel en al verskuif van dit wat verbygaan na dit wat wesenlik belangrik is.

God het Moses geantwoord: “Ek sal jou iets van my goedheid laat sien en Ek sal jou my stem laat hoor. Ek gee genade aan dié wat Ek wil, en ontferming aan dié wat Ek wil.” Hierna het God Moses se oë bedek en verby hom beweeg. Moses is net toegelaat om God van agter te sien.

Hierdie heerlikheid, hierdie ervaring, het Moses sigbaar verander. Teen die tyd wat hy van die berg Sinai afgeklim het met die twee nuwe kliptafels, het  Moses se gesig só geblink dat hy dit vir die volk moes verberg. Dit moes inderdaad Moses se fokus verskuif het van dit wat rondom hom en dalk selfs binne hom gebeur het, na die wonderlike plan en toekoms wat God vir sy volk gereed gemaak het.

Eeue later het God se volk God se teenwoordigheid op ´n ander manier ervaar. God het sy Seun, Jesus, gestuur om sy genade en ontferming eerstehands te openbaar. Anders as Moses, moes die skares mense hulle oë (en harte) oopmaak. Hulle moes kyk! Baie skrifgeleerdes en kerkleiers kon Hom nie herken nie. Hulle kon eenvoudig nie die heerlikheid nie raaksien nie. Diegene wat Jesus wel herken het as die Seun van God, het vinnig geleer om groot te dink en groot te bid. Dat ek mag sien, Here. Net U kan my kind gesond maak. Ons vriend kan nie loop nie, Jesus.´n Ontmoeting met Jesus, een dag met Jesus, was genoeg om hulle omstandighede vir goed te verander. Vir ander, soos die Samaritaanse vrou of die Emmausgangers, het hierdie besef eers ´n rukkie later gekom. Maar steeds het dit hulle lewens en fokus ingrypend verander.

En toe, na sy hemelvaart, het God sy Gees gestuur. Hierdie Gees het onder ons en in ons kom woon. En wanneer ons oë, en ons geestesoë, oop is, leer ons vinnig om God se genade en ontferming in die alledaagse raak te sien. Ons leer ook om groot te dink en groot te bid. En dit verander ons, sodat ons gesigte en lewens iets van die heerlikheid van God weerspieël.

Ons is inderdaad begenadig en geseënd. Ons is in staat om God se heerlikheid op talle maniere te sien en te ervaar. God openbaar Homself elke dag, en op verskeie maniere, aan ons. Ons kan kies om Hom te sien, te herken en ons fokus te verskuif na dit wat wesenlik belangrik is. En ons kan hierdie heerlikheid weerspieël om ook ander se lewens te verlig en te verander. Ek glo dat God vir ons wil sê: “Maak oop jou oë, Ek sal vandag verbygaan. En ek sal deur my Gees, saamgaan.”

 

Geskryf deur Susan Goosen