JOHANNES 3:1-17 (2020-vertaling)
Die Revised Common Lectionary (RCL) wyk in Lydenstyd af van die Matteus evangelie en volg die vertelling van Johannes vir die meerderheid weke tot met die Pinkster Feesdiens (24 Mei 2026). Met die oog op selfondersoek, refleksie en terugkeer na God toe, waartoe Lydenstyd gelowiges inspireer, lei RCL ons om in die tweede week van Lydenstyd by Johannes 3:1-17 se vertelling oor ’n man met die naam Nikodemus stil te staan. Hy het Jesus in die nag besoek (vers 2). Dit volg op Johannes se vertelling van talle mense wat tydens die Pasga in Jerusalem die tekens gesien het wat Jesus doen en in sy Naam geglo het (2:23). Johannes skryf egter dat Jesus Hom nie op die mense verlaat het nie, omdat Hy geweet het wat daar in die mense is (2:24-25). Jesus het mense se harte en motiewe geken.
Soos die ander Evangelieskrywers se unieke skryfwyse en vormgewing van Jesus se verhaal, gebruik Johannes ook kenmerkende literêre elemente. Hy verhaal die ontmoeting tussen Nikodemus en Jesus in ons teks met een van sy gunsteling vorme; ’n verhaal wat dialoog tussen Jesus en Nikodemus stimuleer, lei tot misverstand en aan Jesus geleentheid gee vir ’n lang gesprek waarin Hy die interpretasie van sy gespreksgenoot oor wat Hy gesê het korrigeer. In dié geval veroorsaak die Griekse woord ‘anōthen’ (vers 3) die misverstand, wat lei tot Nikodemus se vraag: “Hoe kan ’n mens weer gebore word as hy reeds oud is?” (vers 4). Die Griekse woord kan beide vertaal word met ‘van bo’ en ‘weer’. Dit is dus belangrik om fyn te luister na Jesus se woorde om Hom reg te verstaan.
Reeds by hul ontmoeting toon Jesus se reaksie op Nikodemus se eerste woorde dat die gesprek nie eenvoudig gaan wees nie. Nikodemus se aanspraak is: “ons weet u is ’n leermeester wat van God gekom het” (vers 2). Jesus val hom as’t ware kru in die rede en sê Nikodemus en die ‘ons’ waarna hy verwys, het nie ’n idee van wie Jesus is nie. Wat hy en ‘ons’ wel van Jesus weet, is baseer op die sfeer van ons aardse bestaan en kennis waartoe dié lewe ons toegang gee. Om Jesus te ken vanuit God se sfeer en opdrag aan Jesus, vra nie ’n bloot oppervlakkige wete nie, maar ’n totaal nuwe bewussyn van die lewe en herkenning van wie Jesus werklik is. Jesus korrigeer Nikodemus se vertrekpunt. Nie die leer van die Fariseërs nie, maar die koninkryk van God bied die sleutel vir ware kennis van Jesus.
Jesus se klem op die andersoortige vertrekpunt vir ons besinning oor wie Jesus en ons self is, veroorsaak dat Nikodemus nie Jesus se uitspraak begryp nie. Jesus sê: “As iemand nie van bo gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie” (vers 3). Jesus verwys na God se inisiatief en sy besluit om sy heerskappy (koninkryk) in die persoon van Jesus Christus te openbaar. Om dit te kan raaksien en Jesus te herken as die Verlosser wat God gestuur het, vra ’n ingreep vanuit God se sfeer (van bo) in die lewe van mense. Nikodemus mis egter dié Goddelike dimensie in Jesus se uitspraak. Hy reageer op menslike vlak, asof ’n mens self aandeel het in die geboorte proses: “Hy kan tog nie ’n tweede keer in die moederskoot ingaan en gebore word nie” (vers 4).
Lydenstyd skep geleentheid om onsself te ondersoek in God se teenwoordigheid en eerlik bestek op te neem van ons oriëntasie in ons verhouding met God deur Jesus Christus. Jesus se gesprek met Nikodemus lê die grondslag vir diep en eerlike besinning oor ons sien van God se koninkryk in die erkenning dat Jesus van bo gekom het om ons tot die ewige lewe te vernuwe. Lydenstyd nooi ons om oor God se liefde vir alle mense na te dink vanuit die gawe van sy unieke Seun. Hy is die volle inhoud van ons geloof in God as Skepper en Onderhouer van ons lewe vir ewig. Lydenstyd bied geleentheid om te besin oor die teken van die doop as bevestiging dat Jesus alleen ons Velosser is. In vers 5 herinner Jesus Nikodemus aan Johannes die Doper se getuienis: “Hy op wie jy die Gees sien neerdaal en bly, dit is Hy wat met die Heilige Gees doop” (1:33). Hoe verstaan jy Jesus se woorde?
Geskryf deur Dr Eddie Orsmond
TOERUSTING VIR DISSIPELSKAP IN DIE WêRELD WAARHEEN GOD ONS STUUR
Tweede Week van Lydenstyd – Jaar A