Om ’n Christen te wees beteken soveel meer as net jou godsdienstige oriëntering. Dit strek verder as die kerk waaraan jy behoort, die tradisies wat jy volg, of die feeste wat jy vier. Wat sê jy nou eintlik wanneer jy sê jy is ‘n Christen?
’n Christen is iemand wat aan God behoort. Gekoop met sy bloed en beseël as sy eiendom. (1 Pet. 1:18-19; 2 Kor. 1:21-22)
As ’n Christen, is daar nou vrede tussen jou en God, en kan jy met vrymoedigheid en in vertroue na Hom toe gaan. (Rom. 5:1; Ef. 3:12)
Jy is weergebore. ’n Nuwe mens wat anders dink en optree omdat die Heilige Gees in jou woon. (1 Pet.1:23; 1 Kor. 6:19; 2 Kor. 5:17; Gal. 5:25)
Deur Jesus se opstanding uit die dood het Christene lewende hoop, vrede wat alle verstand te bowe gaan, groot blydskap en lewe in oorvloed. (1 Pet. 1:3; Fil. 4:7; Joh. 14:27; Joh. 16:22; Joh.10:10)
Christene hoef nie die dood te vrees nie, want hulle weet dat hulle gered is, en vir ewig gaan lewe. (Rom. 6:23; 1 Joh. 5:1; Joh. 6:47; Op. 2:11)
‘Deur sy groot liefde het Hy ons wat dood was as gevolg van ons oortredings, saam met Christus lewend gemaak. Uit genade is julle gered! Ja, in Christus Jesus het Hy ons saam met Hom opgewek uit die dood en ons saam met Hom ‘n plek in die hemel gegee,’ Efesiërs 2:5-6
Is jy ’n Christen? Weet jy vir seker dat jy ’n plek in die hemel het?
Jy hoef nie fanaties godsdienstig te raak, langer Bybel te lees, of meer goeie dade te doen nie. Dit is onmoontlik om jou pad hemel toe oop te werk. Al wat jy hoef te doen is om God se geskenk van verlossing te aanvaar en oop te maak. In Romeine 10:9-10 vertel Paulus ons hoe om dit te doen:
‘As jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word. Met die hart glo ons, en ons word vrygespreek; en met die mond bely ons, en ons word gered.’
So eenvoudig soos dit. Moenie langer uitstel nie.
Geskryf deur Madeleine Venter