Generic selectors
Exact matches only
Search in title
Search in content
Post Type Selectors
Search in posts
Search in pages
wpfc_sermon
wpfd_file

In die Bybel lees ons dat ons soos kinders moet glo as ons die ewigheid wil beleef. Ek dink dit is met ʼn rede, want wanneer kinders glo, is dit sonder voorbehoud en pretensie. Hulle maak geloof absoluut deel van hul daaglikse lewe. Hulle leef wat hulle glo en hulle glo wat hulle leef.

Vanoggend net voor 06:00 sit ek en koffie drink in die kombuis. Ilze het pas gery Kaap toe en my koffie is soos moedersmelk vir ʼn dagoud baba. Terwyl ek so sit en slurp aan die moedersmelk trek my maag op ʼn knop …

“Is dit al so lank terug?” vra ek myself toe ek die datum op die kalender teen die kombuisdeur sien.

Vandag (2 Augustus), 23 jaar gelede, is my beste vriend tragies dood. Hy was ʼn speurder in die veediefstaleenheid en is in ʼn skermutseling met veediewe noodlottig gewond. Ek sal die dag en oproep nooit vergeet nie. Ryan het aan sy debuut gospel-CD gewerk en ek sou ʼn lied saam met hom doen. Ons het van 14-jarige ouderdom saam in kore en groepe gesing. Hy het altyd gesê dat hy nie gaan doodgaan nie, want die Here gaan voor dan kom.

Hy sou drie dae later 21 word en ek kort na hom op 7 Augustus. Toe kom die oproep. Ek sing vandag nog as ek alleen sit die lied van Michael W Smith, “Friends”. Want “friends are friends forever, if the Lord is the Lord of them … and a friend will not say never …”

So begin die dagroetine.

Pap word gemaak, ons eet laat die spoeg spat en daar word nog harder gesels, want ons Oliviers kan praat om ʼn tafel. Jy moet die gaping vat as iemand asem haal, want anders gaan jou storie nie gehoor word nie. Ons praat oor alles. Die pyp wat gelek het en nou reggemaak is. Mamma wat ver werk vandag. Die nuwe hondjie wat ons aan die einde van die maand gaan kry en wat nog ʼn naam moet kry!

Wynand gee die naam Sebastian. Jan-Hendrik is nie ingenome nie, want hy wil weer ʼn Josef hê. Ek verduidelik dat sy naam nie dieselfde as Josef s’n kan wees nie.

Verlede jaar November is ons gesin se St Bernard van 85 kg aan bosluiskoors dood. Dit was baie trane en erg traumaties. Ons moes vir die peuters verduidelik hoekom hy dood is en dat hy nou by Jesus is en ons vir Josef weer eendag sal sien.

Dit moes ek ook myself oor en oor vertel vandag 23 jaar gelede. Ryan, ek sien jou weer, nie nou nie maar ek sien jou weer, want jy is by Jesus.

Uit die bloute stem die twee skielik saam dat die nuwe hondjie maar Sebastian kan wees. En toe kom die curve ball van Wynand …

Met my hart wat klaar rou is vra ek in stilte skrams, “en nou, Here?” terwyl ek die badkamer as verskoning gebruik om net gou asem te skep.

Terug by die tafel vra ek vir Wynand om net weer te sê wat hy gesê het.

“Pappa, ek is kwaad vir Jesus, baie kwaad vir Jesus! Hy het nie eers gevra of hy vir Josef kan kry nie!”

Voordat ek kan antwoord, kom Jan-Hendrik se antwoord: “Moenie worry nie boetie, eendag gaan ek met my eie vliegtuig tot op die wolke vlieg. Jy en Pappa mag saam met my vlieg. Dan roep ons vir Jesus en dan sê ons vir hom dat ons vir Josef bietjie kom haal. Ons sal hom weer terugbring vir Hom as ons klaar gespeel het …”

Is dit nie mooi nie?

Ons gaan Josef net leen en bietjie met hom speel, want ons was nog nie reg om hom eintlik vir jou te gee nie. My hart trek ʼn punt en ek dink dadelik daar is mos baie plek in die vliegtuig. Ons kan vir Ryan ook mos vat, net vir ʼn dag. Terwyl hulle speel met Josef, kan ons mos sing, sing en harmoniseer soos altyd. Sing tot ons stemme skor is, want dan kan ons soos Neil Diamond klink!

Jesus is vir kinders ʼn realiteit. Hulle ken hom, hulle sien hom, hulle glo hom. Sonder pretensie, sonder om te veel te dink en te veel te vra. Hy is so ʼn realiteit dat hulle in ʼn vliegtuig wil klim en gaan kuier.

As ons groot word, is ons tog so bang om so onskuldig te glo. Ons is tog so bang dat ons nie soos die norm in die samelewing sal klink nie, dat ons vir Jesus prys gee.

Josef, ons mis jou. Ons mis jou blobber, ons mis jou groot kop wat oor die agterdeur loer. Ek mis hoe jy die seuns so mooi oppas wanneer hulle speel en hoe jy my reisgenoot was van my eerste dae hier in Swellendam.

Ryan, ek mis jou stem. Daai sterk tenoorstem wat rotsvas oor die note rol. Ek mis jou liefde vir die Here. Jou geloof soos ʼn kind dat Hy ons kom haal. Ek word Sondag 44 … jy is steeds 20 … jy is langer weg as wat jy hier was, maar ek glo weer soos ʼn kind! Jy is by Hom en julle is nie ver nie, julle is hier en – Jan-Hendrik gaan ons bring dat ons kom kuier, al is dit net vir ʼn dag, maar ons kom kuier.

Kom ons leer by ons kinders, kom ons glo soos ons kinders, want dan, eers dan sien ons Jesus weer raak.

Josef, Ryan ons kom kuier want:

“Friends are friends forever if the Lord’s
The Lord of them, and a friend
Will not say never for the welcome
Will not end. It is hard to let you go
in the Fathers hands we know.
For a lifetime is not too long,
to live as friends”

 – Michael W Smith

– Wynand Olivier, Swellendam