Het jy al ooit die kans gehad om met ‘n prinses te dans, om oor die vloer te sweef met ‘n koninklike? Jy verwonder jou aan haar skoonheid, haar onskuld en bowenal, aan haar glimlag. Sy kyk diep in jou oë, en jy voel belangrik, en geliefd, en trots.
So twee maande gelede het die eer my te beurt geval en kon ek behoorlik nie uitgepraat raak nie. “Het jy ‘n foto geneem?”, vra ek my vrou opgewonde en kliphard…almal rondom ons moet dit ook hoor, ingeval iemand dalk ‘n mooier foto geneem het.
Ons was by ons baie spesiale “Ouboet” (wat in ons harte gegroei het terwyl hy amper 4 jaar by ons gebly het) se troue met sy Jana. Ons jongste, Amia, was deel van die gevolg as enigste blommemeisie. Sy het haar rol baie ernstig opgeneem, veral toe sy hoor dat sy ‘n spesiale rok gaan aantrek wat tot op die vloer hang en baie mooi om jou swaai wanneer jy in die rondte draai. Die grimering was natuurlik ook ‘n hoogtepunt en die vars blommekroon op haar kop het my aan heilighied laat dink. Dit gebeur in die lewe met ons almal, ons waarde as mens word hoog geag en uitgelig deur iemand en meteens besef ons, hoe gering ook al, dat ons spesiaal is vir ander.
Amia wou nog nooit met my as haar pappa dans nie. Sy het net skaam haar kop laat sak met ‘n klein glimlaggie en na haar ma toe gehardloop. Soms gegiggel dat sy miskien eendag seker sal maar daai dag wou net nie kom nie! Uit die bloute kom staan sy toe by die troue voor my en sê: “Sal Pappa asseblief met my dans?”
Sjoe hierdie pappa se hart.
Daar is net iets erg spesiaal aan die verhouding van ‘n Pa en sy Dogter.
Ek kon nie glo wat ek hoor nie en het dadelik ingestem, my hand uitgehou en haar na die dansvloer begelei. So begin ons toe die langverwagte dans en as jy my nou vra of ek kan onthou wat die liedjie was, sal ek net moet eerlik wees en erken dat ek glad nie kan onthou nie. Dit was seker omdat sy my so betower het, haar glimlag en haar gesig wat straal soos die van ‘n prinses tydens haar eerste koninklike bal! Met elke draai en swaai het sy gegiggel, hard gelag en net beweeg op die ritme van die musiek. Haar hand styf in myne. Dit het gevoel tyd staan stil en ons vergeet van almal en geniet net die dans.
Daardie vreugde saam met haar pappa, en die onvoorwaardelike vertroue het my laat wonder – Here doen ons dit met U? Gee ek werklik myself sonder voorbehoud en met volle vertroue in U hande? Lag ek saam met die Een wat die vermoë besit om my oor die dansbaan van die lewe te laat sweef?
Daar is bitter weinig dinge mooier as om ‘n paartjie oor die baan te sien gly op die maat van die musiek met die ritme in hul wese ingeprent. Nog mooier as dit, is ‘n pa en dogter omdat ons weet daar gebeur soveel meer as net dans. Pa is besig om vir sussie iets oor die lewe te leer. Baie meer as ritme en passies en hoe om te draai en te swaai. Dit gaan oor vertroue, vaardigheid, selfdissipline en vreugde.
Die lewe is soos musiek met ritme en vreugde. Ons moet leer om te dans op die maat van die lewe en ons moet besef dat die Gewer van die lewe, die leiding moet neem tydens hierdie dans.
As dans egter maklik was sou almal seker op die dansbaan gepronk het. Dit moet geleer word, dans moet ingeoefen word. By al die Skoudanse wat ons al was kan jy sommer vinnig sien watter oom en tannie dans al vir 30 jaar saam – daar is ‘n gemaklikheid en bymekaar-beweeg van jare se saamleef. So is die lewe ook.
Net soos dans, is dit my keuse of ek gaan leer en groei, en of ek skaam in die hoek gaan staan en met verlangende oë wens iemand wil my vra. Gaan ek sê dat ek nie eintlik kan nie, dat ek nie myself of die Leermeester (my Pa) gaan vertrou nie.
Ek het besef dat die voorbeeld en my verhouding met Ammie die finale deurslag gegee het. Sy het gesien hoe ek en mamma gereeld dans, hoedat ons lag en nuwe passies probeer. Hoe my asem soms op raak en mamma dan rustig my hand vat en spot dat ek oud word. Kyk dan lag Amia eers lekker
Is dit nie die lewe nie?
Die lewe maak moeg, die lewe maak rustig. Hy gee perspektief en hy gee pret. Die lewe laat oë blink en die lewe trap tone. As kinders van God, is Sy arms so ferm om ons, Sy genade die musiek in ons ore en Sy hand die sterk leiding wat ons liefdevol die musiek laat voel.
Om vir Amia te leer moet ons baie tyd saam spandeer. “Two-Step” en wals en “jive” en nog vele meer. Met verwondering staar sy elke keer na my en luister so aandagtig tot die gestrompel bietjie meer vorm kry. Mamma help darem ook bietjie en sit die handjie weer terug op sy plek en gee soveel lof wanneer die draai nie ‘n gekoek is nie.
Op die rustige ritme van “I am, I said” van Neil Dimond weet ek onwrikbaar dat Sy hand op my rug is, die dansvloer is beskikbaar en die meel is gegooi. Ons moet tyd saam met die Instrukteur spandeer. Ons het nodig om met groot verwondering, na ons Pa te kyk. Ons moet sien hoe Hy dans en beweeg op die ritme van Sy geskryfde melodie, hoe Jesus ons hande op die regte plek sit en hoe die Gees met lof oor ons getuig.
Die vraag is of ons bereid is om geleer te word? Mag ons tone maar getrap word? Mag ons soms ritme verloor? Gaan ons uit die hoek uitkom en ons begeef op die vloer van die lewe?
Amia was verseker eers bang oor wat almal gaan dink wanneer sy nog leer. Sy het definitief gestry teen daai natuurlike wikkel in die voete en skud van die heupe, want wat as hulle vir haar lag.
Meteens staan haar Pa voor haar. Hy ken elke greintjie potensiaal in haar opgesluit en hou glimlaggend sy hand na haar uit. “Wil jy dans, prinses?” Eers hardloop sy weg en Pa se glimlag verbreed net as hy haar verseker dat hy nooit sal ophou vra nie. Dat hy elke passie 1000 keer oor en oor sal wys. Hy sal haar leer dat hy as Pa, die rigting en tipe passie bepaal en dat hy haar nooit sal dwing om ‘n passie te gee, wat hy haar nie geleer het nie.
Dankie Jesus, dat U so voor elkeen van ons staan en ons die versekering gee dat U nooit U hand sal wegvat nie. Dankie dat U bereid is om ons elke passie van die lewe te wys en te leer..oor en oor. Dankie Gees dat U vol verwagting staan en bereid is om oor te neem wanneer dit nodig is met ‘n lewenslange gewilligheid.
Die dans met ‘n prinses bring vir haar Pa ook groot vreugde. Hy sien hoe sy gly oor die vloer en hoe ander met verwondering na haar staar. Party glimlag en ander het trane in hul oë. Trane want die potensiaal het voete met passies gekry.
God gee die musiek, Hy gee die lewe en die potensiaal.
Dans voluit, dans op die ritme van die lewe en hou op stuur en probeer leiding neem. Wanneer God die dans stuur, weet dat jy in goeie hande is. Dit het my prinses my geleer …
Geskryf deur Wynand Olivier