‘Elke hooghartige leuen wat die ware kennis van God probeer verdraai, loop ons met God se wapens onderstebo. En elke gedagte wat deur ons koppe gaan, neem ons gevange en lewer dit aan Christus uit. Ons dink slegs wat Hy wil hê.’ 2 Korintiërs 10:5 DB
Ja, dit is moontlik om vinnig op jou voete te dink en te reageer, maar wanneer laas het jy tyd geneem om oor iets te dink? Ek praat van daardie diep-en-lank-tipe-dink.
Waarom word mense dit deesdae nie meer gegun nie? Jy moet nóú besluit of jy daardie kontrak wil uitneem – sommer oor die foon – en jy moet nóú besluit of jy daardie projek wil bestuur of nie.
Tog is die vermoë om te kan dink van kardinale belang vir die mens se voortbestaan.
Dit is tydens daardie dink-tye wat probleme opgelos en emosies uitgesorteer word. Om God se stem te kan hoor, moet ons stil word. Dit is dán wanneer ons elke gedagte onder Christus se gesag kan plaas.
Daar is egter te veel stemme wat ons aandag aftrek, en ons koppe vol maak van wêreldse dinge. Paulus skryf aan die gelowiges in Kolosse:
‘Rig julle gedagtes op die dinge wat daarbo is, nie op die dinge wat op die aarde is nie, want julle het gesterwe, en julle lewe is saam met Christus verborge in God.’ Kolossense 3:2-3
Dit is egter nie net die vinnige lewenspas en baie afleidings wat ons minder laat dink nie. Met kunsmatige intelligensie wat al hoe slimmer raak, is dit ook al hoe minder nodig om te dink.
Die gevaar hiervan, is dat ons naderhand so lui kan word om te dink, dat ons dalk nie meer die vermoë sal hê om ons eie besluite te neem nie.
Miskien het die mensdom ’n punt bereik waar ons ’n ernstige poging moet aanwend om ons vermoë om te kan dink te beskerm, en die tyd daarvoor terug te neem.
Ek wil dink oor wat ek lees en dink oor wat ek hoor. Ek wil dink voordat ek antwoord en dink voordat ek doen. Ek wil tyd maak om te dink oor my lewensdoel en die skeppingswonder wat my omring.
‘Verder, broers, alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat lof verdien, ja, watter deug of watter prysenswaardige saak daar ook mag wees: rig julle gedagtes daarop.’ Filippense 4:8
Moenie langer toelaat dat die wêreld jou denke kaap nie. Laat die Heilige Gees op die troon van jou gedagtewêreld gaan sit.
Geskryf deur Madeleine Venter