Na aanleiding van Psalm 95 (lees 2020-vertaling)

Here, die gelowige bidder se roep om te kom! is inspirerend. Sy motivering om voor U, die rots wat ons verlos te jubel en tot u eer te juig, is onweerstaanbaar. Wie kan die uitnodiging om U met dankliedere en lofgesange te nader ignoreer? Ek is gereed om in te gaan, te buig en U, ons Maker, te aanbid.

Here, die psalmis se getuienis oor wie U is en sy herinneringe aan wat U gedoen het, resoneer met hoe ek U leer ken het en wat U van Uself aan my en ons geloofsgemeenskap openbaar het. U is dié groot God, die Koning wat heers bo alle gode, U is die Skepper wat die aarde en berge met u hande gevorm het.

Here, op ’n persoonlik-eksistensiële vlak verwoord die psalmis ook die diep dimensie van my verhouding met en my keuse vir U. Saam met ander gelowiges wat ingesluit is by die oproep om te kom! bely ek ook mý geloof in U: Want U is my/ons God. Ons is die volk vir wie U versorg en ek deel deur u genade daarin.

Here, die psalmis se oproep om te kom! en sy aansporing om in te gaan en U te aanbid, bevat ’n derde element wat deel vorm van die voorbereiding om in u teenwoordigheid te kom. Hy ken sy mede-gelowiges se gesindheid van hart. Daarom waarsku hy en verwoord sy verlange: luister vandag na die Here se stem!

Here, in die derde week van Lydenstyd is die versugting van die psalmis om tog na die stem van ons God te luister, heel gepas. Lydenstyd is ’n tyd vir self-ondersoek en terugkeer na God toe. Ons menslike neiging is so dikwels weg van U af. Die psalmis se versugting om na u stem te luister is toepaslik vir ons geslag.

Daarom, Here, kan ons nie maar net reageer op die roep om te kom! en die uitnodiging om in te gaan om U te aanbid nie. Naas die psalmis se waarskuwing om te luister, is daar ook nog u eie stem wat aan ons as naderende aanbidders riglyne gee van die gesindheid waarmee ons tot U behoort te nader.

Here, in die psalm wys U ’n bepaalde hartsgesindheid af. U roep ’n voorbeeld uit die geskiedenis met u verbondsvolk op en stel dit as verwerplike gesindheid vir ons wat U aanbiddend nader: Moenie julle harte verhard soos by Meriba, soos by Massa in die woestyn nie. Die voorouers het U daar versoek en beproef.

Here, in Lydenstyd wil ek my hart odersoek. Ek wil saam met geloofsgenote ingaan en U aanbid met dankliedere en lofsange.
Amen

Geskryf deur Dr Eddie Orsmond
RCL JAAR A – DERDE WEEK VAN LYDENSTYD