‘Maar die wysheid wat van Bo kom, is allereers sonder bybedoelings, en verder is dit vredeliewend, inskiklik, bedagsaam, vol medelye en goeie vrugte, onpartydig, opreg.’ Jakobus 3:17 (eie klem)
Ons diskrimineer meestal sonder dat ons dit besef. Die rede hiervoor, is dat ons met ’n sekere stel riglyne in ons koppe rondloop – riglyne wat gevorm word deur die kultuur- en portuurgroepe waarbinne ons beweeg.
Die waarheid is, dat dit regtig ’n uitdaging is om almal wat ons pad kruis oor dieselfde kam te skeer. Daarom is dié eienskap van Goddelike wysheid iets wat net die Heilige Gees jou mee kan help.
Omdat God die enigste een is wat werklik regverdig kan oordeel, is dit ook net Hy wat heeltemal onpartydig teenoor alle mense kan optree. (1 Petrus 1:17)
Ek dink die beste manier om onpartydig te wees, is deur nie vanuit jou eie verwysingsraamwerk te oordeel nie, maar om met meer empatie na jou medemens te kyk. Wanneer jy deur die bril van God se volmaakte liefde na ander kyk, sal jy dalk ’n heel ander prentjie sien. By Hom is daar geen onreg, bevoordeling of korrupsie nie. (2 Kronieke 19:7)
Een van die riglyne wat God aan Moses gegee het, van hoe sy kinders moet lewe, sê reguit:
‘Jy mag nie onregverdig wees in die regspraak nie: jy mag nie partydig wees vir dié wat geen aansien het nie of die vooraanstaande bevoordeel nie. Oordeel regverdig oor jou naaste.’ Levitikus 19:15
Tydens ’n sosiale eksperiment wat The Washington Post in 2007 uitgevoer het, het die wêreldbekende violis, Joshua Bell, op ’n moltreinstasie in Washington tydens spitstyd gestaan en viool speel.
Hy het baie ingewikkelde klasieke stukke op ’n 1713 Stradivarius viool – wat drie punt vyf miljoen dollar werd was – gespeel. Uit die duisende mense wat daardie oggend by hom verby is, het net sewe vir ’n oomblik stilgestaan om te luister, en het hy net ’n bietjie meer as twee en vyftig dollar gemaak.
Net twee dae tevore, was Joshua Bell se vertoning by ’n bekende teater uitverkoop teen meer as ’n honderd dollar per kaartjie.
Hierdie eksperiment was spesifiek gemik op die invloed wat konteks op mense se waardering vir kuns het, maar dit kan beslis ook deurgetrek word na ons geneigdheid om op die oog af te oordeel.
Jesus het gesê:
‘Moenie op die oog af oordeel nie, oordeel regverdig.’ Johannes 7:24
Vra sommer vandag nog die Heilige Gees om jou te help daarmee om in alle omstandighede, en met almal waarmee jy te doen het, onpartydig op te tree.
Geskryf deur Madeleine Venter