Generic selectors
Exact matches only
Search in title
Search in content
Post Type Selectors
Search in posts
Search in pages
wpfc_sermon
wpfd_file

“Goeiste, ek is nie perfek nie…en dit is fantasties!”

Nou een oggend besef ek oor ‘n koppie koffie dat ek werklik onperfek is. Ek is nie altyd die regte geselskap nie. Ek vra soms moeilike vrae en spandeer baie tyd op my eie. Trouens is ek meestal die een wat anders dink. En my afhanklikheid van God word oor en oor bewys.

En weet jy wat?

Dit is vir my awesome om myself te ken en te verstaan. Dit is nie altyd maklik nie maar my menswees is regtig lekker.

“Often people attempt to live their lives backwards: they try to have more things, or more money, in order to do more of what they want, so that they will be happier. The way it actually works, is the reverse. You must first be who you really are, then do what you really need to do, in order to have what you want.” Margaret Young

By ‘n sportdag van die kinders kom ‘n vriend aangestap, sover hy loop sien ek mense kyk. Party glimlag en ander praat onderlangs. Ek wonder nogal waaroor dit gaan maar begin kliphard lag toe ek vir “Pieter” sien. Hy is alweer kaalvoet met ‘n koppie koffie in die hand in my rigting aan die stap. Hy hou nie van skoene nie en dra dit net werk toe want hy moet. Ons knoop ‘n gesels aan wat so lekker is dat ek amper nie sy ongestrykte hemp en ou, verbleikte rugbybroekie sien nie. Maar dit is hy – ‘n mens sonder tierlangtytjies – en ‘n mens 100% gemaklik met homself. Toe die wedstryd begin skree hy kliphard vir sy seun.

Wat vir my opvallend was is dat, anders as meeste ander pappas rondom ons, daar nie negatiewe woorde uit sy mond uit kom nie. Ek hoor net positiewe, opbouende taal: “Mooi so boeta, dit was ‘n great poging vir ‘n duikslag!” “Briljant man, kom, kom. Hou net aan. Jy gaan hom nou raakvang! Jaaaa wat ‘n tackle!”

Ek het met nederigheid besef die kaalvoet man leer my waardevolle lewenslesse. Hy is absoluut net homself en het vrede met sy eie menswees. Hy leer daar in die oomblik ook vir sy kind dat hy nie perfek hoef te wees om die spel te geniet nie. Soms laat val jy die bal en glimlag steeds, soms mis jy die “tackle” ses keer, maar kom daai een waar jy die opponent duik laat almal snak na asems.

Ek lees Margaret Young se woorde en sy en “Pieter” sit aan dieselfde tafel. Ons wil so graag perfek wees en baklei teen enige onperfektheid. Hoekom doen ons dit?

Alles rondom ons wys ons hoe om perfek te wees. Hoe om die beste te besit, hoe om jouself in ‘n beter posisie te plaas, hetsy finansieel of fisies. Niks is ooit goed genoeg nie, alles kan beter:

Hoeveel gewig wil jy verloor?

Hoeveel geld wil jy maak om gelukkig te wees?

Hoe goed moet jou kinders in sport en skool wees?

Dis moeilik om in ons hedendaagse samelewing perspektief te hou. Maar jy is soveel beter en jy kan soveel meer wees, want die Here wil vir jou alles gee!

“Pappa, pappa oefen so hard en ek wonder hoeveel kompetisies het Pappa al gewen?” Ek moet lag want my antwoord aan ons 11-jarige seun is waarskynlik nie wat hy wil hoor nie. “Pappa was nog nooit eerste in ‘n kompetiesie nie, maar ek het al baie gewen.” “Nee man Pappa, jy kan mos nie wen as jy nie eerste kom nie?”

“Hoekom doen Pappa dit dan? Hoekom oefen pappa so hard?”

Ek vertel en verduidelik van gesond en fiks wees en bloot omdat dit vir my lekker is. Ek doen dit want daar in die berg op my fiets, is ek vry en verdwyn probleme en spanning vir ‘n oomblik. Hy is nog nie oortuig nie en sy antwoord laat my koud:

“As ons nooit wen nie, is ons mos nie goed genoeg nie en lag en spot almal ons!”

Die lewe is totaal op sy kop gedraai. Ons begin van die verkeerde kant af.

Jy moet mos eers weet wie jy werklik is, jouself aanvaar en vrede maak met die feit dat jy nie alles weet nie. Jy moet vrede maak dat jy nie kan wees wie ander wil hê jy altyd moet wees nie. Die oomblik as ons by daardie punt kom, dan eers kan ons verantwoordelikheid neem vir onsself en ons omstandighede. Dan kan ons vertrou word, deur die lewe, met wat ons wil hê.

Ek gaan nie in die hoek sit en myself jammer kry nie want steel voluit lewe van my. Ek gaan myself aanvaar as perfekte skepsel van die Skepper God, wie deur die sondeval, geneig is om nie goeie keuses te maak nie. Hier waar ek nou tuis is, op aarde, is nie perfek nie en is deur God vervloek en gestraf vir die keuses wat ons as mens gemaak het.

Iewers moet ons besef dat die krag van God binne ons elkeen is en dat dit maak dat ons die lewe van oorwinning kan en moet leef. Ons oorwinning is reeds hier en ons hoef nie te werk en te leef om aan aardse standaarde te voldoen nie.

“…. die genadegawe wat God gee, is die ewige lewe Christus Jesus ons Here.” Rom 6:23

As jy kaalvoet loop in die winkelsentrum en dit is wie jy is, geniet dit en gaan groot. As jy nie nou die behoefte koester om ten volle in beheer te wees soos ander nie, gaan voluit en ontdek jouself. Ek probeer werklik om getrou te wees aan wie ek is elke oomblik van die dag. Om te leef in die oomblik en as ek nie perfek optree en doen soos almal verwag nie, ook die goed in dit te probeer soek. Ek moet altyd vra of my optrede werklik uit self-ontdekking strek of uit ‘n selfsugtige ander rede. As ek optree om net anders te wees omdat ek ander wil irriteer of aanvat, is ek nie besig om my eie potensiaal te leef nie. Dan is dit ‘n reaksie op mens in plaas van ‘n reaksie uit God.

Om my eie onperfektheid te leef, is nie om teen die samelewing te gaan nie. Ek loop nie kaalvoet omdat ek net anders wil wees of omdat ek mense wil skok nie, ek loop kaalvoet omdat dit lekker is en omdat dit ‘n identiteit merk vir my is. Ek kan vir my seun vertel dat ek sport gedoen het op ‘n kompeterende vlak en selfs my land oorsee gaan verteenwoordig het. Maar dit beteken nie dat ek moes wen nie. Dit beteken dat my daar wees en my deelname, reeds die oorwinning is en dat dit ander se lewens verreik, juis oor die manier wat ek dit doen. Voluit na die beste van my vermoë!

Dit is werklik vir my ‘n gawe om nie perfek te wees nie, want dit maak my outentiek, dit maak my Wynand wees, soos God my gemaak het in hierdie wêreld. Maar daar is ook vir my meer. My verwagting van my volgende lewensfase, saam met God weg van hierdie onperfekte aarde, daar gaan my perfektheid skyn, helder skyn soos wat Hy my oorspronklik geskep het.

Leef die nou en hier en geniet jou onperfektheid, want dit is “awesome”, want dit is mens wees.

Onperfekte liefde

Wynand Olivier