Generic selectors
Exact matches only
Search in title
Search in content
Post Type Selectors
Search in posts
Search in pages
wpfc_sermon
wpfd_file

‘Vandag is daar vir julle in die stad van Dawid die Verlosser gebore, Christus die Here!’ Lukas 2:11

In die Ou Testament, is daar na beraming 574 verse wat na Jesus verwys. Om die waarheid te sê, loop die mensdom se behoefte aan ’n Verlosser, en die belofte van Sy koms, soos ’n goue draad deur die Bybel.[i]

Kan jy jou indink hoe opgewonde die herders moes gewees het toe die engel vir hulle die nuus gee dat hierdie Verlosser uiteindelik gebore is? Emanuel, die Messias waarop mense al vir duisende jare wag, het sowaar gekom.

En kan jy dink hoe wonderlik dit vir hulle moes gewees het dat hierdie groot nuus nou juis met húlle – wat sommer net eenvoudige herders is – gedeel word?

Dit sou meer sin gemaak het as die Hoëpriester die nuus eerste gekry het, en die engelekoor in die tempel gesing het. Of as Jesus ten minste in een van die fariseërs of skrifgeleerdes se huise gebore was. Dit was tog immers ’n gebeurtenis waarvoor hierdie godsdienstiges dag en nag gewag het.

Tog was die omstandighede rondom Jesus se geboorte so nederig dat dit by die meeste mense verbygegaan het.

‘Sy het haar Eerstelingseun in die wêreld gebring en Hom in doeke toegedraai en in ‘n krip neergelê, omdat daar vir hulle geen plek in die herberg was nie.’ Lukas 2:7

Ek glo dat Jesus se geboorte juis só gebeur het omdat God aan ons wou wys dat Hy vir álmal as Verlosser gekom het. Nie net vir die hoog-godsdienstiges en mense met aansien nie, maar ook vir doodgewone mense. Mense soos ek en jy, en, ja, ook vir diegene waarop ons soms neerkyk.

Oor Kersfees vier ons die Skepper self wat mens geword het om ons almal se Verlosser te kan wees.

‘In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God, en die Woord was self God. Hy was reeds in die begin by God. Alles het deur Hom tot stand gekom: ja, nie ‘n enkele ding wat bestaan, het sonder Hom tot stand gekom nie … Die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Ons het sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader het, vol genade en waarheid.’ Johannes 1:1-3,14

Kom ons dra hierdie boodskap uit tydens ons feesvieringe. Kom ons wys God se groot liefde en genade aan almal wat ons pad kruis, van die karwag by die winkelsentrum waar jy jou Kersinkopies doen, tot by die familie en vriende om jou feestafel.

Maak dit hierdie jaar ’n Geseënde Kersfees vir almal.

 

Geskryf deur Madeleine Venter

[i] https://www.gotquestions.org/prophecies-of-Jesus.html