Na aanleiding van Psalm 105:1-6, 16-22, 45(lees 2020-vertaling)
Here, vandag se gespreksgebed met U is ’n vrug van die Psalmis se getuienis én van my eie ervaring die afgelope dae. Die Psalmis getuig dat U “onthou”. U onthou altyd u ewige verbond met Israel, én U het
dit met vaste voorskrifte aan Jakob bevestig.
Here, omdat U u ewige verbond met u kinders onthou, wil ek óók onthou. Ek wil onthou waar u troue liefde my eie én ons geloofsgemeenskap se lewe geraak en bewaar het. Om u troue verbondsliefde te onthou,
motiveer my om u vaste voorskrifte te wil nakom.
Die Psalmis herinner die verbondsvolk aan u pad met hulle, Here. Hy belig gebeure op hulle lewenspad wat hulle geskiedenis as deel van u heilsgeskiedenis met u volk bevestig. Dit is juis u verlossingsgeskiedenis met Israel wat my in dié dae getref en geïnspireer het.
Die bywoning van twee begrafnisdienste en weersiens van ’n jeugvriend die afgelope dae, het die verhaal van Josef in my onthou opgeroep, Here. Die vertellings oor hoe U my drie kennisse se lewenspad bepaal het, het u heil vir u verbondsvolk deur Josef nuwe betekenis gegee.
Here, die getuienisse oor drie mense se lewens in 2026, het my laat besef U het nie u verbondsgeskiedenis met Josef en Israel geeïndig nie. Soos met Josef, bevestig dié eietydse getuienisse U raak nog heilbrengend en aktief ons lewens aan. U sluit ons in by u heilsgeskiedenis.
Here, wat my ook getref het met die viering van vriende se lewe en getuienisse oor u verbondstrou in hul elkeen se lewe, is die rol wat geloofsgemeenskappe gespeel het op die pad wat U met elkeen gestap het. Dit is ruimtes van aanbidding wat ons van U laat onthou.
Dankie, Here, dat U mense aanraak met u troue liefde in uiteenlopende omgewings en kontekste. Dankie dat U geloofsgemeenskappe vorm om u heil vir die wêreld te onthou en bekend te maak. Dankie dat U ons tuis maak by u kinders waar ons u lof kan besing.
Here, ons wil met oorgawe praat oor al u heilsdade. Ons wil ons in u heilige Naam beroem.
Amen