LUKAS 17:1-10 (2020-vertaling)
Lukas se vertelling (9:51-19:27) van Jesus se reis na Jerusalem ontplooi in drie eenhede (9:51-13:21; 13:22-17:10; 17:11-19:27). Ons meditasie vorm die laaste deel van die tweede eenheid. Lukas 17:1-10 bevat vier kort mededelings (verse 1-2, 3-4, 5-6, 7-10) aan die dissipels (vers 1; apostel, vers 5). Daar is nie opvallende verbindingslyne tussen die uitsprake nie, maar alvier handel oor dissipelskap. Lukas voeg soms fragmente materiaal saam wat nie ’n vloeiende eenheid vorm nie (vgl. 16:1-13, besittings; 11:1-13, gebed). Ons Skrifdeel gee dieselfde indruk. Jesus se uitsprake in die Evangelies vertoon dikwels die integriteit van wysheid spreuke, met inhoudelike betekenis. NT Wright sien wel ’n gemeenskaplike lyn wat die kort uitsprake verbind, naamlik die tema van nederigheid. Wat leer ons dan oor die gesindheid en houding van dissipels in die Jesus-woorde van Lukas 17:1-10?
Jesus begin met ’n algemene lewenswaarheid, naamlik dat sy dissipels óók geloofstoetse sal teëkom. Toetsing as struikelblok is deel van die menslike kondisie. Jesus rig egter ’n waarskuwing aan mense (Fariseërs?) wat ander se geloof verswaar (hindernis oprig, vers 1), of veroorsaak dat die geringes (kleintjies; dissipels) struikel (vers 2). Jesus gebruik ’n radikale beeld vir hoe ernstig dit is om iemand wat op God vertrou se geloof te ontwrig. Dit is beter dat die ontwrigter eerder sterf. Die gesindheid (karakter) wat geestelike leiers en leermeesters benodig om nié gelowiges se vertroue in God te skend nie, is nederigheid. Dit sal dissipel motiveer om ander se belange voorop te stel. Jesus roep sy dissipels op tot waaksaamheid en om geloofsgenote wat sondig eerder nederig te vermaan (vers 3).
Jesus noem nog ’n aspek na aanleiding van sonde as hindernis, naamlik om ’n geloofsgenoot te vergewe wat berou toon nadat hy/sy teen jou gesondig het. Selfs as dit herhaaldelik gebeur op een dag en hy/sy kom sê ek het berou, “moet jy hom vergewe” (vers 4). Jesus se uitgangpunt is dat die intensie om ander te vergewe daarin bestaan dat jy jouself aan die ander ondergeskik stel en hul dienskneg word. ’n Nederige karakter put nie voordeel uit die situasie van die ander se verleentheid oor ’n misstap teen jou nie. Omdat God jou vergewe het, moet jy sy genade ook met ander deel.
In vers 5-6 kom die tema van geloof aan die orde. Jesus se uitspraak oor die noodsaaklikheid om ’n geloofsgenoot te vergewe was klaarblyklik vir die dissipels (hier ‘apostels’ genoem) uitdagend. Dit blyk hulle het die afleiding gemaak dat baie geloof nodig is om te kan vergewe soos wat Jesus leer. Daarom versoek hulle dat Jesus hulle geloof moet vermeerder, aanvul, groter maak. Jesus se antwoord op hulle versoek draai egter die gesprek in ’n ander rigting. Vir Jesus gaan dit nie oor minder of meer geloof nie, maar erkenning van geloof wat God skenk en reeds in gelowiges teenwoordig is. Die vraag is nie hoe groot mý geloof is nie, maar eerder oor geloof in God wie groot is. Jesus se gelykenisse oor die mosterdsaadjie en die wildevyeboom lê klem op die effek van opregte geloof. Geloof kan werklikhede skep wat ons verstand te bowe gaan, indien ons binne God se wil handel. Leef uit die geloof in God!
In vers 7-10 vertel Jesus ’n gelykenis oor ’n slaaf wat verantwoordelik is vir sy eienaar se boerdery en huishoudelike take. Jesus wys humoristies dat ’n eienaar nié sy slaaf bedien nie. Hy leer sy dissipels wat hul roeping en taak as sy volgelinge behels, asook met watter gesindheid hulle daardie diens moet verrig. Die skerpte van Jesus se lering is dat wat ons ookal doen, selfs harde werk vir God, Hom nooit in die skuld teenoor ons plaas nie. Ons opregte diens aan God toon ons dankbaarheid. In nederigheid moet ons God as Heer erken en besef ons diens in sy koninkryk is juis wat ons móét doen as dissipels van Jesus, sonder verwagting van vergoeding.
Is hierdie gesindheid ook in jou?
Geskryf deur Dr Eddie Orsmond
TOERUSTING VIR DISSIPELSKAP IN DIE WêRELD WAARHEEN GOD ONS STUUR
Sewentiende Week van Koninkrykstyd – Jaar C