Na aanleiding van Psalm 148 (lees 2020-vertaling)
Here, in die laaste week van 2025 spoor die psalmis ons aan om U, die Here, te loof. Die psalmis klee sy uitnodiging tot lofprysing in die vorm van aansporing en opdrag. Sy imperatiewe werkwoordsvorm laat geen twyfel oor wat ons te doen staan aan die einde van nog ’n jaar nie.
Lofprysing is die geloofstaal van elke mens wat na aan U leef, Here. Die Halleluja-vroomheid wat die psalmis hier aanmoedig en motiveer, is nie ’n opsionele aanhangsel waaroor u troue volgelinge na willekeur kan besluit nie. U troue liefde gee ons oorvloedige rede om U te loof.
U het ons deur die afgelope jaar gedra, Here. U het ons met krag en aanpasbaarheid geseën, sodat ons die uitdagings én geleenthede op ons lewenspad kon beoordeel en dit in u sterke hand kon laat vir uitkomste wat net U kan bewerk. Daarvoor loof ek u Naam, Here.
As ek aan die einde van dié begenadigde tydperk saam met u getroue volgelinge bestek opneem van waar ons u ontfermende genade beleef het, Here, móét ek eenvoudig saam met my geloofsgenote U loof. U Naam alleen is hoog verhewe.
Die psalmis se bevel om u Naam te loof, Here, is nie beperk tot u troue volgelinge en gelowiges wat na aan U is nie. Dat u heerlikheid en die eer van u Naam reik oor die ganse aarde en hemel, is ’n universeel omvattende waarheid wat uitstrek oor elke aspek van u skepping.
Daar is niks wat bestaan in die hoogste hemele of bokant die hemelkoepel wat nie op u bevel geskape is en tot stand gekom het nie. U, Skepper-God, het die heelal ewig gevestig, ’n vaste orde bepaal wat nie verbygaan nie. Dit is genoeg rede waarom ook die hemelliggame, u Naam móét loof.
Here, ek kan myself maar net verbeel hoe ’n universele koor van elke geskape wese op aarde moet klink, as almal en alles gehoorsaam sou meedoen aan die opdrag om U te loof. Hoe anders sal die wêreld daar uitsien Here, as konings, aanvoerders, regeerders, oud en jonk, hulle aan u luister onderwerp? Dit is waar: U Naam alleen is hoog verhewe.
Amen
Geskryf deur Dr Eddie Orsmond
RCL JAAR A – EERSTE WEEK NA KERSFEES