MATTEUS 2:1-12 (2020-vertaling)

Ons lees Matteus se vertelling van die sterrekenners uit die Ooste wat in Jerusalem aangekom het, in die week van Epifaniefees (6 Jan). Die sterrekenners was op soek na die koning van die Jode wat gebore is (vers 2). Carol Walsh skryf in Word & Worship die kenmerk van Epifanie is ’n gees van ontdekking. Dit gee geleentheid om die persoon van Jesus jaarliks nuut te ontdek. Epifaniefees is die oudste en oorspronklik belangrikste Christelike fees. Dit word twaalf dae na Kersfees gevier en wys op die epifanie (verskyning) of teofanie, die manifestasie of openbaring van God aan die wêreld in Jesus Christus. In die Epifanie seisoen het die Kerk tradisioneel drie spesifieke insidente gedenk: besoek van die sterrekenners (Matt 2:1-12), Jesus se doop (Mark 1:9-12), en wonderlike voorsiening van wyn by die bruilof te Kana (Joh 2:1-11). Dié week staan ons stil by die sterrekenners se besoek aan Jesus.

Vir Matteus is sekere historiese gegewens rondom Jesus se geboorte belangrik. Hy beklemtoon die geografiese plasing van Jesus se geboorte; Betlehem in Judea, in onderskeiding van Betlehem in Galilea (Jos 19:15). Matteus haal vry aan uit twee Ou-testamentiese tekste (Miga 5:2; 2 Sam 5:2) om die doel met sy toepassing daarvan te verseker, naamlik dat hy daaraan ’n belangrike rol toeken in kontras met die geringskatting daarvan in Miga se tyd. Matteus beklemtoon ook die verband tussen Jesus se koningskap en die Dawidiese koningslyn in Israel, wat deur Betlehem as stad van Dawid verteenwoordig word. Dit dien verder as grondslag vir die teenstelling tussen Jesus en Herodes. Herodes was ’n lakei van die Romeinse heersers, terwyl Jesus die ware koning van die Jode is, vir wie God na die wêreld gestuur het. Dit gebeur toe Herodes koning in Jerusalem was.

Matteus vertel hoe God buite die raamwerk van aardse koninkryke en maghebbers in die ruimte van die heelal die aandag van mense trek en hulle bewus maak van sy handelinge wat implikasies inhou vir beide die hemelruim en die aardse werklikheid. Matteus stel ons bekend aan geleerde mense van destyds, waarskynlik van Persiese herkoms, wat die beweging en verskyning van hemelliggame bestudeer en die betekenis daarvan ondersoek het. Die sterrekenners uit die Ooste het die verskyning van sterre aan die hemelruim bestudeer en die stand daarvan verbind aan gebeure op aarde. Volgens hulle wetenskap sou gebeure in die hemelruim iewers op aarde neerslag vind. In Matteus se vertelling reflekteer dit wat op aarde gebeur met Jesus se geboorte, in die hemelruim as ’n ster in hulle gesigsveld verskyn om hulle dieper te laat delf na die betekenis daarvan vir hulle en die mensdom.

Die toewyding waarmee hulle hul studieveld benader en die erns waarmee hulle die kennis van hul tradisionele bronne opgeneem het, laat hulle die afleiding maak dat die ster wat hulle sien iewers in die verlede beskryf is as teken van die geboorte van die koning van die Jode op aarde. Hulle ondersoek lei hulle na Jerusalem waar Herodes se koninklike paleis was. Maar anders as hul diepgevoelde behoefte om aan die koning van die Jode eer te bewys, reageer koning Herodes en die hele Jerusalem saam met hom in ontsteltenis oor die aankondiging dat ’n koning van die Jode iewers gebore is. Teenoor die eerbewys van die sterrekenners uit die Ooste, is Jerusalem se mense ontsteld oor die nuus dat die lankverwagte Christus inderdaad in hul wêreld verskyn het.

Herodes val ook terug op die kennis van sy tradisie se bronne as hy al die leierpriesters en skrifkenners uit die volk bymekaar roep om navraag te doen waar die Christus gebore sou word. Sy bronne bevestig die geboorteplek as die onaansienlike Betlehem. Daarom stuur Herodes die sterrekenners om dáár bevestiging te kry en hom te kom inlig, sodat hy sy konkurrent kan verwyder. Maar die ster lei die sterrekenners na die plek waar Jesus gebore is en hulle kon Hom aanbid, waarna God hulle op ’n ander weg terugstuur na hul land in die Ooste. Wat ’n verrassende verhaal oor God se veskyning by mense!

Geskryf deur Dr Eddie Orsmond

TOERUSTING VIR DISSIPELSKAP IN DIE WêRELD WAARHEEN GOD ONS STUUR
Week van Epifaniefees – Jaar A