Na aanleiding van Psalm 23 (lees 2020-vertaling)

Here, ek wonder vandag oor die troos wat oorbekende woorde vir gelowiges bring, veral in tye waar die betekenis van daardie geykte woorde nie met die ervaarde werklikheid rym nie. Tans woed daar oorloë in talle streke van die wêreld. Die impak van gewapende aanvalle in veraf landsterke, raak ook óns lywe.

Dit verbaas my, Here, dat Dawid se gebed oor U as sy herder, ’n geloofswoord is wat juis in dié ontwrigtende omstandighede by my en ander gelowiges aanmeld as u woorde van versterking en bemoediging. Terwyl niks in die groter wêreld daarbuite reg lyk nie, maak die psalmis se woorde, “ek ly nie gebrek nie,” tog sin.

Here, waarna sou hierdie geloogfswoorde verwys wanneer ek as bidder rondom my kyk en bewus word van die media beelde oor gemeenskappe wat deur bomme vernietig is? Kan ek dan nog sê ek ly nie gebrek nie? Het die vernietiging van ander se leefwêreld en rusplek niks met my te doen nie? Is dit nie ook mý gebrek nie?

Here, dat Dawid se herder-gebed my gedagtes prikkel om nie net na my eie rus en oorvloedige maaltyd te kyk nie, wek tog die insig dat gelowiges se ervaring van U as versorgende herder en gasheer, oor veel meer gaan as die materiële en tasbare omgewing waarin ons bestaan. Dit wys ook op ’n innerlike kondisie van meelewing.

As ek Dawid se beeld herinnering aan U as versorgende herder op dié manier interpreteer, Here, dan voel dit vir my asof sy bekende geloofswoorde minder sê oor mý gebrek, maar meer oor u hart vir mense. Ek hoor u deernis vir brose mense. Ek voel u begeerte aan dat u kinders rus en vrede in u teenwoordigheid mag ervaar.

Here, Dawid se bekende geloofswoorde tref steeds die kol, omdat dit ons menslike lewenservaring so eg verwoord. Ek wil by Dawid aansluit in my gebed, veral vir mense in gebiede waar bomme val en die kategorie vyand nie vir almal duidelik uitgespel is nie. Ek bid vir myself, dat my hart iets van u deernis vir mense sal toon.

Here, ek bid in hierdie dae dat U ’n herder sal wees vir onskuldige vroue en kinders in plekke van vernietiging, wat geen sê het in die besluite oor aanvalle nie. Wees vir hulle ’n rusplek waar hulle krag kan herwin en hoop kan opbou om op u paaie te gaan. Wees U hul beskerming. Versorg hulle met u goedheid en troue liefde.

Here, ek oordink u geloofswoorde vir ons, elke dag.

Amen

Geskryf deur Dr Eddie Orsmond
RCL JAAR A – VIERDE WEEK VAN LYDENSTYD